Nuus 11:00
BULLETIN 18 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Omstrede evangelis Omotoso verlaat SA vandag te midde van regsomstredenheid
# Mashatile lei SA-afvaardiging na Frankryk vir beleggingskonferensie
# En in atletiek: Simbine weereens eerste oor die wenstreep
# Die omstrede Nigeriese televisieprediker Timothy Omotoso verlaat Suid-Afrika vandag vrywillig vanaf OR Tambo Internasionale Lughawe. Dit volg op sy vrylating uit aanhouding hangende ’n appèl deur Binnelandse Sake teen sy klassifikasie as ’n verbode persoon. Omotoso en twee mede-beskuldigdes is onlangs op 32 aanklagte, insluitend mensehandel en verkragting, vrygespreek ná ’n agt jaar lange verhoor. Die Nasionale Vervolgingsgesag oorweeg ’n appèl en verwys na vervolgingstekorte tydens die saak. Omotoso, leier van die Jesus Dominion International Church, het sy status as verbode persoon in die hof teengestaan.
# Adjunkpresident Paul Mashatile sal van môre tot Saterdag ‘n afvaardiging na Frankryk lei vir die Beleggingskonferensie tussen Suid-Afrika en Frankryk. Die geleentheid is daarop gemik om bilaterale bande te versterk en direkte buitelandse beleggings te lok. Dit word aangebied onder die tema “Suid-Afrika-Frankryk: ‘n Vennootskap vir Wedersydse Voorspoed”, en sal fokus op sleutelsektore soos energie, toerisme en Inligting- en Kommunikasietegnologie. Mashatile sal ook die Franse eerste minister Francois Bayrou ontmoet.
# Princy Mthombeni van Suid-Afrikaners vir Grondwetlike Hervorming sê 30 jaar na die aanvaarding van die land se grondwet eis burgers meer as simboliese beloftes. In ‘n onderhoud met Newzroom Afrika vra Mthombeni vir veranderinge aan die voorwoord van die Grondwet en stel voor dit moet verklaar dat Suid-Afrika aan sy eie burgers behoort, en nie aan almal wat daarin woon nie. Sy beklemtoon die behoefte aan ‘n grondwet wat nasionale ontwikkelingskwessies aanspreek:
# Atletiek: Akani Simbine het sy onoorwonne rekord in die 100 meter naelloop gister by die Atlanta Spele voortgesit met ’n oortuigende oorwinning van 9,86-sekondes oor Udodi Onwuzurike van Nigerië wat 10,05 aangeteken het. Simbine, wat verlede naweek goud gewen het in die 4×100 meter-aflos by die Wêreldaflosbyeenkoms in Guangzhou, China, het ook die eerste drie 100 meter-wedlope van sy seisoen gewen – een in Botswana en twee tydens Diamond League-byeenkomste in China. Wayde van Niekerk, wat sedert die Parys Olimpiese Spele verlede jaar nie meegeding het nie, het ’n tyd van 20,03 in die 200-meter aangeteken en derde geëindig.
# Rugby: Die Pumas het ’n dramatiese 31-29 oorwinning oor die Boland Kavaliers in die Mbombela-stadion die naweek behaal om ’n tuiseindstryd vir die 2025 SA-bekertoernooi volgende naweek te verseker. Die Pumas het op een stadium met net 12 man gespeel ná drie geel kaarte, maar het steeds daarin geslaag om te wen toe losskakel Danrich Visagie laat in die wedstryd ’n strafdoel aangeteken het. Hulle sal teen die verdedigende kampioene, die Griekwas, te staan kom. Die Griekwas het daarin geslaag om die Cheetahs gistermiddag in Kimberley met 41-38 in hul halfeindstryd te klop.
# En laastens, Operasie Glimlag, in vennootskap met die Nelson Mandela Kinderhospitaal en ondersteun deur Life Healthcare, is besig met ‘n chirurgiese program oor naweke om operasies vir gesplete lippe en verhemeltes op 40 kinders uit te voer. Die uitvoerende hoof van Life Healthcare, Peter Wharton-Hood, het aan Newzroom Afrika gesê die program is ‘n voorbeeld van openbare privaat vennootskap. Hy sê as deel van Nasionale Glimlagmaand, word chirurgiese studente opgelei om die agterstand in chirurgie te verminder:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….