Nuus 9:00
BULLETIN 18 Mei 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa reis vandag na VSA om saak oor waninligting rondom Suid-Afrika reg te stel
# Ramaphosa prys advokaat Duma Nokwe as ‘n ware rewolusionêre figuur
# En, die DA eis aanspreeklikheid oor hoe die NVG die Omotoso-saak hanteer het
# President Cyril Ramaphosa vertrek vandag na die VSA om gespanne verhoudings te herstel en bewerings van ‘n Afrikaner-volksmoord in Suid-Afrika te bestry. Ramaphosa het tydens die induksie van die ANC in die Noord-Kaap se Provinsiale Uitvoerende Komitee gesê hy sal die bewerings ferm verwerp en noem dit disinformasie wat gebruik word deur individue wat asiel in die VSA soek. Hy het beklemtoon daar is geen volksmoord nie, aangesien Suid-Afrikaners nie dade van haat of vergelding teenoor ander pleeg nie:
# President Cyril Ramaphosa het advokaat Duma Nokwe geloof as ’n ware rewolusionêre figuur. Tydens Nokwe se herbegrafnis in Johannesburg, het Ramaphosa in sy huldeblyk Nokwe se onwrikbare beginsels en moed geprys. Nokwe, die eerste swart advokaat wat tot die Johannesburgse Balie toegelaat is, het van 1958 tot 1969 as sekretaris-generaal van die ANC gedien. Hy is in 1978 in ballingskap in Zambië oorlede. Ramaphosa het sy bydrae tot die Vryheidsmanifes beklemtoon:
# Die DA eis aanspreeklikheid van die Nasionale Vervolgingsgesag oor wat hy growwe onbevoegdheid noem in die verkragtingsverhoor van Timothy Omotoso. Woordvoerder Glynnis Breytenbach sê die NVG het nie die saak behoorlik vervolg nie en onetiese gedrag toegelaat. Sy sê ‘n voorbeeld hiervan is ‘n WhatsApp-groep wat die aanklaers sowel as die klaers ingesluit het. Breytenbach sê die NVG se onduidelike antwoorde aan die parlementêre portefeuljekomitee vir Justisie is onvoldoende en beweer hierdie wanhantering van die saak stuur ‘n gevaarlike boodskap aan slagoffers van geslagsgeweld.
# Die Giyani-lughawe in Limpopo gaan na jare se sluiting heropen as die F.Y. Siyandhani Internasionale Lughawe. Die Siyandhani Tradisionele Owerheid en Bombo-beleggingsgroep stel fase een as ‘n privaat kommersiële fasiliteit bekend. Die lughawe se herlewing, wat voorheen ‘n sleutelsentrum tydens die Gazankulu-tuislandera was, sluit vier verdere fases in om streeksgroei te bevorder. Brilliance Ntiyiso van Bombo het aan eNCA gesê die projek sal ongeveer 500 werksgeleenthede skep:
# Motorsport: Oscar Piastri van McLaren het gister tydens ’n dramatiese kwalifiseringsessie vir die Emilia Romagna Grand Prix in Imola die voorste wegspringplek verower. Lewis Hamilton het vroeg uit die kwalifiseringsessies uitgeval in sy eerste tuiswedren vir Ferrari, en Yuki Tsunoda van die Red Bull-span het ongedeerd weggestap ná ’n ernstige ongeluk. Piastri het ’n foutlose rondte op presies die regte oomblik afgelê en het die Nederlander Max Verstappen se tyd met net 0,034-sekondes verbeter. Lando Norris kon slegs vierde plek behaal vir McLaren, nadat George Russell sy tyd op die laaste oomblik verbeter het. Russell sal derde wegspring.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….