Nuus 09:00
BULLETIN 17 Mei 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa vra verlof om te appelleer teen ‘n uitspraak oor die hersiening van die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering
# Die Vereniging van Staatsamptenare vra die regering om sekere dienste intern te behartig om korrupsie te beveg
# En, die Gautengse Gesondheidsdepartement moedig die publiek aan om bloeddruktoetse te ondergaan
# President Cyril Ramaphosa het by die Gautengse Hooggeregshof aansoek gedoen om verlof tot appèl teen ‘n uitspraak wat sy ondertekening van die wet op Nasionale Gesondheidsversekering hersienbaar verklaar. Die hof het hom opdrag gegee om binne tien dae besluitnemingsrekords by die Raad van Gesondheidsorgfinansiers in te dien. Ramaphosa voer aan die uitspraak het presidensiële diskresie oor die hoof gesien en gaan teen 27 Mei die Konstitusionele Hof hieroor nader. Die RGF het intussen nog twee regsgedinge oor die NGV-wet en sy openbare deelnameproses aanhangig gemaak.
# Die Vereniging van Staatsamptenare sê staatsdepartemente moet dienste soos skoonmaak, sekuriteit, skoolvoeding en die verkryging van skryfbehoeftes intern behartig om korrupsie te bekamp en vermorsing te verminder. Dit volg na ’n verslag wat toon dat 37-persent van senior bestuurders wat deur die Spesiale Ondersoekeenheid geëvalueer is, by twyfelagtige staatskontrakte betrokke is. Claude Naiker van die vereniging het die gebrek aan beskerming vir fluitjieblasers gekritiseer en vra sterker maatreëls teen korrupsie:
# Die polisie in KwaZulu-Natal-polisie het met ‘n soektog begin nadat agt mense gisteraand in die Zama-informele nedersetting in Umlazi se U-afdeling doodgeskiet is. Polisiewoordvoerder Robert Netshiunda sê die slagoffers, ses mans en twee vroue tussen 22 en 40 jaar oud, is met veelvuldige skietwonde gevind. Netshiunda sê onbekende verdagtes het ‘n woning bestorm en losgebrand. Hy het bevestig die motief is nog onbekend en die ondersoek duur voort:
# Die Gautengse Gesondheidsdepartment vra inwoners om op Wêreld-hoëbloeddrukdag gesondheidsinrigtings te besoek vir gratis bloeddruktoetse. Die departement beklemtoon op die dag met die tema Meet jou bloeddruk behoorlik, beheer dit, leef langer, dat hoë bloeddruk, wat as die stille moordenaar bekend staan, dikwels ongemerk bly. Woordvoerder Motalatale Modiba sê gereelde toetsing, behandeling en leefstyl-aanpassings kan ernstige komplikasies soos beroertes en hartaanvalle voorkom:
# Rugby: Die vleuel Edwill van der Merwe en die senter Marius Louw speel vandag die laaste keer vir die Leeus in die Verenigde Rugbykampioenskaps-wedstryd teen Ospreys in Johannesburg. Van der Merwe sluit volgende seisoen by die Haaie aan, terwyl Louw vir Sale Sharks in Engeland gaan speel. Die belowende jong losskakel Lubabalo Dobela sal die eerste keer die nommer 10-trui dra. Die Leeus het weereens nie die liga-fase van die kompetisie oorleef nie nadat hulle slegs sewe van hul 17 wedstryde gewen het.
# En ten slotte, die Internasionale Dag teen Homofobie, Transfobie en Bifobie herdenk die Wêreldgesondheidsorganisasie se besluit om homoseksualiteit na 35 jaar as geestesversteuring te deklassifiseer. Vandag op 17 Mei, word ’n beroep op beleidmakers, die media en die publiek gedoen om geweld en diskriminasie teen LGBTQ-persone te beveg. Onder die tema “Die Krag van Gemeenskappe” word gefokus op die belangrike rol van gesamentlike optrede in die bou van inklusiewe, uiteenlopende gemeenskappe wat gelykheid en waardigheid vir alle mense handhaaf.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….