Nuus 08:00
BULLETIN 17 Mei 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Vier ministers vergesel president Cyril Ramaphosa op sy besoek aan die Withuis
# Miljoene sien ‘n AfriForum-dokumentêr nadat Elon Musk hom oor Suid-Afrika se rassebeleid uitspreek
# En tennis: Dis Carlos Alcaraz teen Jannik Sinner in die eindstryd van die Italiaanse Ope
# President Cyril Ramaphosa word volgende week tydens sy Withuis-besoek deur vier Kabinetsministers vergesel. Die Presidensie het bevestig die minister van Internasionale Betrekkinge, Ronald Lamola, die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, en die minister van Landbou, John Steenhuisen, gaan saam. Ramaphosa ontmoet die Amerikaanse president Donald Trump Woensdag om bande te herstel, met belangrike gesprekke oor handel, geopolitieke spanning, Oekraïne, Gaza en G20-samewerking. Dit volg na Trump se dreigement om nie die G20-beraad in Suid-Afrika by te woon nie weens kommer oor beweerde volksmoord.
# AfriForum se dokumentêr, Is Trump right about South Africa? is al meer as 30-miljoen keer gesien nadat Elon Musk dit op X gedeel en Suid-Afrika se rassewette as ’n skandelike verleentheid beskryf het. Die dokumentêr kritiseer die regering se diskriminerende beleid en bespreek ook rassewette, plaasmoorde en grondonteiening. Ernst van Zyl van AfriForum sê dit gee nuwe hoop dat die waarheid oor die regering se optrede uiteindelik op ’n wêreldwye skaal ontbloot word:
# Eskom het herklemtoon dat die kragnetwerk steeds beperk is, ten spyte van ‘n meer bestendige kragstelsel en beurtkrag wat opgeskort is. Eskom-woordvoerder Daphne Mokoena sê meer as tweeduisend-600 megawatt sal teen Maandagaand weer in gebruik wees om in die winteraanvraag te voorsien. Onbeplande onderbrekings is op veillige vlakke op gemiddeld meer as 14-duisend megawatt. Sy vra Suid-Afrikaners om onwettige verbindings te vermy en krag verantwoordelik te gebruik om die voorraad gedurende die winterseisoen te handhaaf:
# Die Departement van Vervoer versnel tans transformasie in die sektor. ’n Konsep van die hersiene Vervoersektorkodes is voltooi en sal binnekort vir openbare kommentaar beskikbaar wees wat kodes insluit vir ’n sektor-spesifieke Ondernemings- en Verskafferontwikkelingsfonds om klein, medium en mikro-ondernemings in swartbesit te bevorder. Die minister van Vervoer, Barbara Creecy sê SANRAL, PRASA en Transnet is besig om hulle verkryging, spoorweg- en infrastruktuurprojekte te hervorm om inklusiewe groei regdeur die waardeketting te prioritiseer:
# Die man wat skuldig bevind is nadat hy Salman Rushdie in New York in 2022, op ‘n lesings-verhoog met ‘n skerp voorwerp gesteek het, is Vrydag tot 25 jaar tronkstraf gevonnis. ‘n Jurie het die 27-jarige Hadi Matar in Februarie skuldig bevind aan poging tot moord en aanranding. Owerhede sê Matar het probeer om ‘n dekades-oue fatwa, of edik, uit te voer wat Rushdie se dood geëis het. Die Iranse leier, Ayatollah Ruhollah Khomeini, het die fatwa uitgereik na die publikasie van Rushdie se roman, “The Satanic Verses”, wat sommige Moslems as godslasterlik beskou.
# En ten slotte tennis: Dis die wêreld-nommer een Jannik Sinner teen Carlos Alcaraz in die eindstryd van die Italiaanse Ope nadat hy moes terugveg om die Amerikaner Tommy Paul 1-6, 6-0, 6-3 te klop. Dit is die Italianer se eerste toernooi na sy drie-maande skorsing vir die gebruik van verbode middels. In die ander halfeindstryd het die Spanjaard Alcaraz in skoon stelle met Lorenzo Musetti afgereken en daarmee alle hoop vir ‘n Italiaanse eindstryd verydel. Die wêreld-nommer vyf, Jasmine Paolini, kom vandag teen Coco Gauff in die vroue-eindstryd te staan en hoop om die eerste Italiaanse kampioen in 40 jaar te word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….