Nuus 16:00
BULLETIN 16 Mei 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Tiger Brands verbind hom tot ‘n gemeenskapstrust van 150-miljoen-rand in ‘n uittree-ooreenkoms met Wes-Kaapse boere
# Tshwane gaan die Wonderboom-lughawe laat herleef deur openbare-privaat vennootskap
# En rugby: Eben Etzebeth is slaggereed om môre teen Scarlets te speel
# Tiger Brands het die verkoop van sy Langeberg- en Ashton Foods-ingemaakte vrugte-onderneming aangekondig aan ‘n konsortium wat Wes-Kaapse vrugteprodusente insluit. Dit is daarop gemik om meer as drie-duisend werksgeleenthede te beskerm en te verseker dat die onderneming volhoubaar bly. As deel van die ooreenkoms sal die onderneming 150-miljoen-rand in ‘n gemeenskapstrust belê om die plaaslike Langeberg-gebied te ondersteun. Hulle sal ook 31-miljoen-rand bestee om die omgewing se geriewe op te gradeer. Die transaksie is steeds onderhewig aan regulatoriese goedkeuring en sal na verwagting later vanjaar afgehandel word.
# ActionSA het sy frustrasie te kenne gegee oor president Cyril Ramaphosa se voortgesette besluiteloosheid rakende die skorsing van die Johannesburgse Direkteur van Openbare Vervolging, Advokaat Andrew Chauke. ActionSA se woordvoerder, Matthew George, sê die president het nog nie opgetree nie, ondanks ‘n formele versoek deur die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging, Shamila Batohi, in Augustus 2023:
# Die Tshwane Munisipaliteit het planne aangekondig om die Wonderboom-lughawe te laat herleef deur ‘n openbare-privaat vennootskap. Die burgemeesterskomiteelid vir Finansies, Eugene Modise, sê ondanks jare se finansiële verliese, sal die metro nie bande met die lughawe verbreek nie, en sê dit het potensiaal as ‘n vragvervoersentrum. Fondse is opsy gesit as deel van Tshwane se begroting vir die 2025/26-boekjaar om staatsbates te laat herleef. Modise het Wonderboom se strategiese ligging en vermoëns-voordele benadruk:
# Rugby: Eben Etzebeth het vinnig herstel en sal môre vir die Haaie speel in hul laaste Verenigde Rugbykampioenskaps-ligawedstryd teen Scarlets in Durban. Die Springbok-slot het van die veld gehinkepink tydens verlede naweek se oorwinning oor Ospreys, maar dit blyk dit was slegs ’n stamp teen die been. Emile van Heerden sal saam met Etzebeth in die tweede ry sak. Die Bok-loskopstut Ox Nché is terug nadat hy siek was, terwyl Phepsi Buthelezi die nommer agt-trui sal dra in die plek van Bok-kaptein Siya Kolisi, wat ruskans kry.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-10-sent teen die dollar, 20-rand-27-sent teen die euro en 24-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-729-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-169-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-21-sent per vat.
# En ten slotte: SANParke het sy visie 2040-strategie op die Afrika Reis-indaba in Durban bekendgestel. Die plan sal daarop fokus om bewaring meer inklusief en voordelig vir plaaslike gemeenskappe te maak. Dertien klein toerisme-ondernemings het ‘n platform gekry waar hulle hul dienste kan bevorder. ‘n Sleutelvennootskap is met Mpumalanga Parke onderteken en meer ooreenkomste word in ander provinsies verwag. Visie 2040 is daarop gemik om natuurbewaring met toerisme en gemeenskapsontwikkeling te verbind.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….