Nuus 07:00
BULLETIN 5 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa ontmoet die leier van die rebellegroep Rapid Support Forces oor verwikkelings rondom vrede in Soedan
# Die Departement van Basiese Onderwys kondig kwartaaldatums, nuwe vakke en korter vakansies vir 2024 aan
# En, FlySafair word erken as die beste en stiptelikste lae-kosteredery ter wêreld
# Die Rapid Support Forces in Soedan se leier, Mohamed Hamdan Dagalo, het president Cyril Ramaphosa Donderdag in Pretoria ontmoet. Die Rapid Support Forces voer oorlog teen die Sudanese Armed Forces onder Abdel Fattah al-Burhan. Toe die gevegte in Khartoem in April verlede jaar begin het, is dit grootliks beskou as ‘n mafia-stryd oor buit. Dit het egter gou ontaard in Afrika se gewelddadigste en mees verwoestende konflik. Byna ses-miljoen mense is sedertdien ontwortel en 20-persent het uit die land gevlug. Generaal Dagalo het aan Ramaphosa gesê hy is gereed vir vrede en dat die oorlog in sy land moet stop. Die president se woordvoerder, Vincent Magwenya:
# Die Departement van Basiese Onderwys het die akademiese planne vir 2024 bekendgemaak, wat kwartaaldatums, nuwe vakke en aangepaste vakansies insluit. Die staatskole, wat op die 17de begin, se almanak bestaan uit 203 dae vir onderwys, wat ‘n toename is van die 199 dae in 2023, met skole wat op 11 Desember sluit. Skoolvakansies is beperk tot 25 dae teenoor die 32 van 2023. Die departement toets ook die instelling van Kodering en Robotika as nuwe, volgende-geslag-vakke in die leerplan.
# ʼn Groeiende aantal Suid-Afrikaanse jeugdiges ondersoek internasionale werksgeleenthede. Dit is as gevolg van die land se hopelose werkloosheidskrisis. Met ʼn kommerwekkende koers van 60-persent, dra faktore soos trae ekonomiese groei, misdaad en korrupsie by tot die krisis. ʼn Woordvoerder van die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap, Lwaphesheya Khoza, moedig jong werksoekers aan om gebruik te maak van JA Connect. Volgens haar is dit ʼn wolkgebaseerde platform wat daarop gemik is om jong talent uit Afrika in verbinding te stel met globale werksgeleenthede:
# Die lugvaart-datamaatskappy Cirium het die Suid-Afrikaanse lugredery, FlySafair, erken as die beste en stiptelikste lae-kosteredery ter wêreldwyd. Die prestasie-hersiening vir stiptelikheid, wat jaarliks meer as 30-miljoen vlugte wêreldwyd ontleed, het FlySafair geloof vir sy stiptelikheidskoers van 92,36-persent, gegrond op 55-duisend-444 vlugte. Stiptelikheid is noodsaaklik vir ‘n redery se welslae, en raak reisigers se siening. FlySafair sê sy toewyding aan stiptelikheid het bygedra tot sy positiewe posisie in die lugvaartbedryf.
# ʼn Hommeltuigboot volgepak met plofstof het in besige vaarwater in die Rooisee ontplof. Die Amerikaanse vloot sê die vaartuig het aan Houthi-rebelle behoort. Dié groep sê sy veldtog is teen Israel se militêre bedrywighede in Gaza gemik. Die aanval het plaasgevind ʼn dag nadat 12 lande, waaronder Amerika en die Verenigde Koninkryk, Houthi-rebelle gewaarsku het teen gevolge indien hulle voortgaan om handelsvaartuie te teiken. Internasionale skeepsvaart is ernstig ontwrig met vele maatskappye wat reise deur die Rooisee opgeskort het en eerder die lang roete om Afrika gebruik.
# Atletiek: Die regsontleder Mpumelelo Zikalala twyfel oor Oscar Pistorius se terugkeer na mededingende sport. Zikalala het op 702 gesê as die voormalige Paralimpiese kampioen sou wou terugkeer na die baan, sal hy toestemming van die Paroolraad moet kry. Die man bekend as die Lemnaeler word na verwagting vandag uit die Atteridgeville Korrektiewe Sentrum in Tshwane op parool vrygelaat. Hy het agt jaar van sy vonnis van 13 jaar vir die moord op sy meisie, Reeva Steenkamp, in 2013 uitgedien. Zikalala sê die paroolproses is gemik op rehabilitasie en nie finansiële gewin nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-68-sent teen die dollar, 20-rand-45-sent teen die euro en 23-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 43-duisend-611-dollar-55-sent. Die prys van goud is twee-duisend-46-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-89-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….