Goeie Nuus 13:30
BULLETIN 16 Mei 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# ‘n Splinternuwe bloudiamant wat onlangs in die Cullinan-myn in Suid-Afrika ontgin is, Mediterranean Blue, is vir 383-miljoen-rand verkoop op Sotheby’s se veiling in Genève, Switserland. Die bod vir die diamant, wat 10,3 karaat weeg, het op 198-miljoen-rand begin. Sotheby’s se hoof van juweliersware, Quig Bruning, sê die edelsteen tel onder die top- bloudiamante wat hulle al verkoop het:
# Die Wits-universiteit se Antivirale Geen-terapie-navorsingseenheid en die Sintetiese Organiese Chemie-eenheid het een van ses internasionale Vernuwingstoekennings onder die GIZ SAVax-program ontvang. Dis vir die ontwikkeling van ‘n bio-afbreekbare, Afrika-ontginde bestanddeel wat die toekoms van entstofproduksie kan verander. Hulle projek het ʼn toelaag van sewe-miljoen-rand ontvang om verbindings te ontwikkel wat gebruik word in die vervaardiging van entstowwe, en wat uit vloeistof van kasjoeneut-doppe verkry word. Professor Patrick Arbuthnot sê hulle is opgewonde om ʼn volhoubare plaaslik-ontginde alternatief te ontwikkel.
# Die Franschhoekse Letterkundefees, beskryf as ‘n viering van boeke en die gesprekke wat dit aanwakker, begin vandag in die Wes-Kaap. Vanjaar se driedaagse program beloof prikkelende gesprekke, inspirerende slypskole en kragtige storievertellings wat die kulturele polsslag van Suid-Afrika en verder weerspieël. Van die gassprekers is die self-uitgewer-kenner en skrywer Vanessa Wilson, die bekroonde misdaadskrywer Mike Nicol en die voormalige privaat sekretaresse van wyle Nelson Mandela, Zelda la Grange.
# Die Suid-Afrikaanse Rooibosraad sê rooibostee is vinnig besig om die voorkeurdrankie onder Gen Z en millenniërs te word. Die kafeïenvrye, gesonde aanloklikheid maak dit ’n gunsteling onder jonger verbruikers wat gesondheid en gerief soek. Gen Z verkies kruie- en soettreksels, terwyl millenniërs meer hou van gereed-om-te-drink-keuses vir hul besige lewens. Baie verkies nou rooibos bo suikerryke drankies en selfs alkohol. Adéle du Toit van die raad sê rooibos se veelsydigheid, gesondheidsvoordele en etiese oesmetodes maak dit die ideale keuse vir gesondheidsbewuste jongmense.
# En ten slotte: Die Nasionale Raad van en vir Persone met Gestremdhede het Loslitdag 2025 se tema, Verby die Etiket, bekendgemaak. Die projek moedig Suid-Afrikaners aan om persone met gestremdhede te erken en te vier vir hulle volledige menswees en verby sosiale etikette te beweeg. Dit word op Vrydag, 5 September, gevier en deelnemers kan die saak ondersteun deur ʼn plakker vir 20-rand of helderblou artikels te koop. Die opbrengs sal organisasies landwyd baat. Loslitdag daag mense se siening oor gestremde persone uit.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….