Nuus 17:00
BULLETIN 14 Mei 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Dringende voertuigherroepings word in Suid-Afrika aangekondig weens veiligheidsgebreke
# ‘n Oud-polisiespeurder word tot 10-jaar tronkstraf gevonnis vir ‘n moordkomplot teen ‘n senior offisier
# En krieket: Agt Protea-toetsspelers gaan die laaste week van die IPL misloop
# Die Nasionale Verbruikerskommissie het dringende voertuigherroepings aangekondig wat tophandelsmerke regoor Suid-Afrika raak. Jeep Wrangler- en Chrysler 300C-modelle van 2014 tot 2016 het gevaarlike Takata-lugsakgebreke. Citroën van 2009 tot 2016, Mercedes-Benz van 2020 en 2023, Audi vanaf Oktober 2021, Volkswagen sedert April 2025 en Volvo-modelle van 2020 tot 2022 word geraak deur rem-, battery- en veiligheidsgordelprobleme. Die kommissie sê dit hou ernstige gevare in, insluitend rem-mislukkings. Eienaars van hierdie voertuie word aangeraai om onmiddellik gemagtigde handelaars te besoek vir ondersoek en noodsaaklike herstelwerk.
# Die voormalige polisiespeurder, Roshanlal Banawo, is tot tien-jaar tronkstraf gevonnis in die Landdroshof in Newcastle, KwaZulu-Natal vir sameswering om Umzinyathi se distrikskommissaris te vermoor. Francis Slambert het in 2023 twee sluipmoordpogings oorleef. Banawo is in 2021 ná 39-jaar uit die mag ontslaan, ses maande voor sy aftrede, nadat hy gekoppel is aan dwelmverwante sake. Regter Ian Colditz het die huurmoordenaars wat staatsgetuies geword het, vrygespreek:
# Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement sê ouers het tot Vrydag om laat aanlyn aansoeke in te dien vir die plasing van graad R-, een- en agt-leerders vir die 2026-skooljaar. Meer as agt-duisend-600 laat aansoeke is tot dusver ontvang, wat die totale aantal aansoeke op byna 174-duisend te staan bring. Bronagh Hammond van die departement waarsku dat ouers ná die sperdatum persoonlik by distrikskantore of skole sal moet aansoek doen:
# Die hoof van Rusland se enigste onafhanklike verkiesingswaghond is tot vyf jaar in ’n strafkolonie gevonnis nadat ’n hof hom skuldig bevind het aan samewerking met ’n ongewenste organisasie. Die 44-jarige medevoorsitter van die Golos-beweging, Grigory Melkonyants, wat in Augustus 2023 in hegtenis geneem is, het onskuldig gepleit. Reuters haal menseregte-aktiviste aan wat die saak teen hom beskryf as deel van die breër onderdrukking van die burgerlike samelewing wat vererger het sedert Rusland se inval in Oekraïne in Februarie 2022.
# Krieket: Agt Protea-toetsspelers wat aan die Indiese Premierliga deelneem, sal die 25ste terugkeer na Suid-Afrika om voor te berei vir die eindstryd van die Wêreldtoetskampioenskap teen Australië wat op 11 Junie in Londen begin. Dit beteken hulle sal die IPL se uitspeelwedstryde misloop. Kagiso Rabada, Aiden Markram, Marco Jansen, Lungi Ngidi, Tristan Stubbs, Wiaan Mulder, Ryan Rickelton en Corbin Bosch keer terug, maar David Miller en Heinrich Klaasen is nie deel van die toetsgroep nie en is beskikbaar tot die eindstryd op 3 Junie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-28-sent teen die dollar, 20-rand-52-sent teen die euro en 24-rand-35-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-en-36-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-187-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 65-dollar-95-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….