Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 14 Mei 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met gemengde gevegskuns: Die Suid-Afrikaner Dricus du Plessis gaan sy onbestrede wêreld-middelgewigtitel op 17 Augustus op UFC 319 in die United Centre in Chicago verdedig teen die Rus Khamzat Chimaev. Du Plessis het in Februarie sy titel behou toe hy die Amerikaner Sean Strickland verslaan het. Hy het 20 van sy 23 gevegte met uitklophoue gewen, terwyl Chimaev se onoorwonne rekord 16-0 is.
# Krieket: Kagiso Rabada lei die Proteas se sesman-snelboul-aanval in die eindstryd van die Wêreldtoetskampioenskap teen Australië, wat op 11 Junie op Lord’s in Londen begin. Die ander snelboulers is Lungi Ngidi, Dane Paterson, Marco Jansen, Wiaan Mulder en Corbin Bosch, ondersteun deur die draaiboulers Keshav Maharaj en Senuran Muthusamy. Afrigter Shukri Conrad sê hulle het die afgelope 18-maande hard gewerk om ’n mededingende rooibal-eenheid te bou, en die bereiking van die eindstryd is ‘n bewys van hulle vordering.
Nog krieket: Engeland het vyf Indiese Premierliga-spelers ingesluit in sy groep vir ‘n eendagreeks teen die Wes-Indiese Eilande, insluitend die gewese kaptein, Jos Buttler. Dis egter nie uitgesluit dat hulle dalk nie aan die reeks sal deelneem nie. ’n Probleem met skedulering dreig nadat die IPL verlede week opgeskort is weens die dodelike militêre skermutselings tussen Indië en Pakistan. Die Indiese beheerraad het besluit om die 17 uitstaande wedstryde aan te bied ná ’n wapenstilstandsooreenkoms, met die toernooi wat op 3 Junie sal eindig.
# Die Internasionale Rugbyspelersvereniging sê hy is nie geraadpleeg voor Wêreldrugby die Wêreld-Sewesreeks hersien het nie. Die beheerliggaam het die aankondiging gedoen net voor die laaste toernooi van die seisoen in Los Angeles, Amerika, wat Suid-Afrika gewen het. Ingevolge die nuwe formaat bestaan die reeks slegs uit agt elite-spanne wat aan ses toernooie deelneem. Daarna sluit vier spanne van die nuutgestigte Afdeling Twee by hulle aan vir drie toernooie in ‘n Wêreldkampioenskapsreeks. Spelers voel dit sal slegs die ryker nasies bevoordeel en nie opkomende lande help ontwikkel nie.
# En ten slotte, gholf: Die Meesters-kampioen, Rory McIlroy, speel saam met die wêreld-nommer-een, Scottie Scheffler, en die verdedigende kampioen Xander Schauffele in die eerste twee rondes van die Amerikaanse PGA-kampioenskap wat môre in Florida begin. McIlroy wil die eerste speler word om die eerste twee majors van die jaar te wen sedert Jordan Spieth in 2015 die Meesters en Amerikaanse Ope gewen het. Spieth is in dieselfde groep as Patrick Reed en die Ryderbeker-ster, Ludvig Åberg. Suid-Afrika se voorste speler, Thriston Lawrence, is ingedeel saam met die Amerikaner Nick Dunlap en Harry Hall van Engeland.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….