Nuus 08:00
BULLETIN 14 Mei 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering sê hy stel inklusiewe ekonomiese groei en werkskepping eerste
# Die DA sê Panyaza Lesufi se verskoning aan kankerpasiënte sal nie verlore lewens terugbring nie
# En ‘n Israelse lugaanval op ‘n hospitaal in Gaza eis die lewens van 28
# Die regering sê Statistiek Suid-Afrika se jongste kwartaallikse arbeidsmag-opname se uitslag vir 2025 se eerste kwartaal herinner aan die voortslepende probleme in die arbeidsmark. Werkloosheid het in die eerste kwartaal tot 32,9-persent gestyg en byna 300-duisend werksgeleenthede het tussen Januarie en Maart verlore gegaan vergeleke met die vierde kwartaal verlede jaar. Die regering sê die sewende administrasie gee voorkeur aan inklusiewe ekonomiese groei, werkskepping en strukturele hervorming. Hy sê hy werk saam met die sakesektor om belegging te ontsluit.
Die GOOD-party sê intussen die jongste kwartaallikse arbeidsmag-opname vir die eerste kwartaal bevestig wat Suid-Afrikaners reeds weet: Werkloosheid raak erger en nie beter nie. Altesaam 8,2-miljoen landsburgers is amptelik werkloos. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê die land het nie net ‘n werkloosheidskrisis nie, maar ʼn waardigheidskrisis:
# Die DA se woordvoerder vir Gesondheid in Gauteng, Jack Bloom, kritiseer die premier, Panyaza Lesufi, se verskoning vir die vertragings in kankerbehandeling. Bloom beklemtoon dat 250-miljoen-rand wat vir bestralingsterapie toegeken is, nie bestee is nie, ten spyte van meer as twee-duisend pasiënte wat gewag het op behandeling. Hy vergelyk die krisis met die Life Esidimeni-tragedie en verwys na nalatigheid. Hy eis die afdanking van die LUR vir Gesondheid, Nomantu Nkomo-Ralehoko, en die Departementshoof, Lesiba Malotana:
# ʼn Israelse lugaanval op die Europese Hospitaal in Khan Younis in Gaza het 28 lewens geëis en tientalle beseer. Volgens berigte was die teiken die senior Hamas-figuur, Mohammed Sinwar, wat blykbaar beheer van die groep se militêre vleuel oorgeneem het. Die Israelse weermag sê hy het ʼn geteikende aanval op Hamas-terroriste in ʼn bevel- en beheersentrum uitgevoer, wat volgens hom onder die hospitaal was. Hy sê hy het ook twee vuurpyle onderskep wat uit Gaza afgevuur is en waarvoor Islamitiese Djihad verantwoordelikheid aanvaar het.
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner, het ná ʼn drie-maande-skorsing weens opkikkers suksesvol teruggekeer toe hy die Argentyn, Francisco Cerundolo, verslaan het om die Italiaanse Ope se kwarteindronde te haal. Die Italianer se volgende teenstander is óf Casper Ruud van Noorweë óf Jaume Munar van Spanje. Die verdedigende kampioen, Alexander Zverev van Duitsland, het die Fransman, Arthur Fils, geklop terwyl nog ʼn Italianer, Lorenzo Musetti, die Rus, Daniil Medvedev, uitgeskakel het. In die vroueafdeling het die Amerikaner Peyton Stearns met Elina Svitolina van Oekraïne afgereken om die halfeindronde te haal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-32-sent teen die dollar, 20-rand-47-sent teen die euro en 24-rand-49 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-en-647-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-329-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-84-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….