Nuus 15:00
BULLETIN 13 Mei 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Eskom stel saans beurtkrag in van vandag tot Donderdag
# Die formele sektor sny 245-duisend poste in die eerste kwartaal van 2025
# En die Episkopale kerk verwerp ‘n versoek om 49 Afrikaner-vlugtelinge in Amerika te huisves
# Eskom het aangekondig fase 2-beurtkrag sal vanaf 4-uur vanmiddag tot 10-uur Donderdag-aand geld gedurende aand-spitstye. Dit is omdat verskeie opwekkingseenhede nog nie in werking gestel is ná onderhoudswerk gedoen is nie, en ‘n bykomende verlies van een-duisend-385 megawatt weens onbeplande onderbrekings. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê spanne werk daaraan om die kragstelsel bestendig te kry en te verbeter:
# Statistieke SA sê die Kwartaallikse Arbeidsmagopname vir die eerste kwartaal toon die aantal mense wat in die formele sektor in diens was het met 245-duisend afgeneem, maar indiensneming in die informele sektor het met 17-duisend toegeneem. Die meeste toenames is aangeteken in Vervoer, Finansies en Nutsdienste. Afnames is aangeteken in Handel, Bouwerk, Privaat huishoudings, Gemeenskaps- en Maatskaplike dienste en Mynbou. Die uitslae dui ook aan indiensneming het slegs in drie provinsies toegeneem – die Wes-Kaap met 49-duisend, Gauteng met nege-duisend en die Vrystaat met vier-duisend.
# Die Episkopale Kerk het aangekondig dat hy sy dekade-lange vennootskap met die Amerikaanse regering oor vlugteling-hervestiging gaan beëindig. Dit volg nadat hy opdrag ontvang het om te help met die hervestiging van 49 Afrikaners wat vlugtelingstatus verkry het. Voorsittende biskop Sean Rowe verwys na die kerk se verbintenis tot rassegeregtigheid, kommer oor voorkeurbehandeling, en die uitsluiting van risiko-groepe soos Afgaanse en Irakse bondgenote. Rowe sê hulle is nie meer in staat om vlugtelinge te huisves nie weens aanhoudende staats- begrotingsbesnoeiings. Die kerk gaan teen September alle federale vlugtelingdienste beëindig.
Die leier van Suid-Afrika se Referendumparty, Phil Craig, sê intussen hulle is tans in Washington in Amerika om bewusmaking te skep oor die kwessies waarmee Suid-Afrikaners te kampe het, en om Kaapse onafhanklikheid as deel van die oplossing te bevorder. Craig sê hulle het vasgestel die ANC is ‘n organisasie wat tans deur talle gekritiseer word, dat daar geen illusies hoegenaamd is oor hul algehele gebrek aan morele waardes nie en dat hul nou plaaslik en internasionaal uitgeken word aan hul blatante skynheiligheid:
# Krieket: Die Suid-Afrikaanse afrigter, Shukri Conrad, het ‘n groep van 15-spelers aangewys vir die eindstryd van die Wêreldtoetskampioenskap teen Australië op Lord’s in Londen van 11 tot 15 Junie. Die spelers sal op 31 Mei in Engeland bymekaarkom voor ‘n vierdaagse opwarmingswedstryd teen Zimbabwe. Die span bestaan uit kaptein Temba Bavuma, David Bedingham, Corbin Bosch, Tony de Zorzi, Marco Jansen, Keshav Maharaj, Aiden Markram, Wiaan Mulder, Senuran Muthusamy, Lungi Ngidi, Dane Paterson, Kagiso Rabada, Ryan Rickelton, Tristan Stubbs en Kyle Verreynne.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-33-sent teen die dollar, 20-rand-37-sent teen die euro en 24-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-658-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-258-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 65-dollar-20-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….