Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 13 Mei 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Die Indiese Premierliga hervat Saterdag met ‘n hersiene program. Dit is Vrydag vir ʼn week opgeskort na vyandelikhede tussen Indië en sy buurland, Pakistan. ʼn Skietstilstand is ʼn dag later aangekondig. Die IPL sê 17 wedstryde sal op ses stadions gespeel word met die eindstryd op 3 Junie nadat dit oorspronklik op 25 Mei sou plaasvind. Die hersiene program sluit dubbelwedstryde op twee Sondae in.
Krieket Australië sê intussen hy sal spelers se individuele besluite steun of hulle na Indië wil terugkeer of nie. Baie Australiërs wat by die toernooi betrokke is, het teruggekeer huis toe. Krieket Australië sê die hersiene IPL-program bemoeilik voorbereiding vir die eindstryd van die Wêreld-toetskampioenskap teen Suid-Afrika wat volgende maand in Londen gespeel word.
# Sokker: Suid-Afrika se nasionale Onder-20-mansspan het die Demokratiese Republiek die Kongo met 1-0 verslaan om hul plek in die Afrikabekertoernooi se halfeindronde te verseker. Thabang Mahlangu het die wedstryd se enigste doel in die 105de minuut aangeteken om die sege te beklink. Die Amajitas se oorwinning beteken dat hulle vir die FIFA Onder-20-Wêreldbekertoernooi kwalifiseer wat van 27 September tot 19 Oktober in Chili aangebied word. Nigerië, Marokko en Egipte het ook gekwalifiseer.
# Rugby: Die Wallabies se afrigter, Joe Schmidt, is beïndruk met die diepte in die Britse en Ierse Leeus se groep vir vanjaar se toer na Australië. Andy Farrell het 15 Ierse spelers en 13 Engelse gekies, insluitend kaptein Maro Itoje, in sy toergroep van 38 wat drie toetse teen die Wallabies sal speel. Schmidt sê hy ken baie van die spelers uit sy tyd as afrigter van Ierland. Hy is ook baie beïndruk met die jong Engelse flank Henry Pollock, wat nog net 32-minute se toetsrugby gespeel het.
# En tennis: Die wêreld-nommer-vyf, Jasmine Paolini, gaan speel vir ‘n plek in die halfeindronde van die Italiaanse Ope nadat sy die eerste plaaslike speler in elf jaar geword het om die vierde ronde te oorleef. Sy het die 17de-gekeurde Jelena Ostapenko van Letland in skoon stelle verslaan en kom nou te staan teen die 13de-gekeurde Diana Shnaider. Die Russiese speler het Elise Mertens van België in die ronde van 16 verslaan. Die viermalige Grand Slam-kampioen Naomi Osaka het in drie stelle teen die Amerikaner Peyton Stearns verloor.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….