Nuus 12:00
BULLETIN 13 Mei 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# RISE Mzansi sê meer as 200-miljoen-rand se grondeise is sedert die begin van 2024/’25 toegestaan
# Nog drie verdagtes word aangekeer in verband met die verdwyning van die joernalis Aserie Ndlovu en sy lewensmaat
# En Krieket Australië steun sy spelers as hulle wil terugkeer na Indië vir die hervatting van die IPL of nie
# RISE Mzansi sê die Departement van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling het onthul dat hy sedert die begin van die 2024/’25-boekjaar meer as 217-miljoen-rand in 287 eise betaal het. Hiervan was 14 produktiewe plase ten tyde van die skikking. Die departement het tussen 2014 en 2024 nie ‘n enkele stukk grond onteien nie. Makashule Gana van RISE Mzansi sê dié inligting slaan weereens die waninligting oor die Onteieningswet in die wind:
# Die Vereniging vir Staatsamptenare sê hy sal nie net staan en toekyk terwyl instellings wat die werkersklas dien, in die naam van tegnokratiese doelmatigheid afgebreek word nie. Die Hooggeregshof in Pietermaritzburg het verlede week beslis dat Ithala Bank sy bedrywighede ten volle kan hervat. Die Omsigtigheids-owerheid het vroeër vanjaar voorlopige likwidasieprosedures teen die staatsbeheerde bank ingestel, wat gelei het tot die bevriesing van rekeninge. Claude Naiker van die vakbond sê die uitspraak is ‘n klinkende verdediging van ekonomiese soewereiniteit en maatskaplike geregtigheid:
# Die polisie het bevestig nog drie mense is aangekeer in verband met die verdwyning van en moontlike moord op die joernalis Aserie Ndlovu en sy lewensmaat, Zodwa Mdhluli. Agt verdagtes word nou aangehou. Oorskot wat moontlik dié van die paartjie is, is verlede week in Rust de Winter op die grens tussen Limpopo en Gauteng ontdek. Daar word nog gewag op die uitslag van DNS-toetse om die identiteite vas te stel. Polisiewoordvoerder Athlenda Mathe sê die jongste verdagtes is vanoggend vasgetrek:
# Krieket: Die Indiese Premierliga hervat Saterdag en Krieket Australië sê hy sal spelers se individuele besluite steun of hulle na Indië wil terugkeer of nie. Die wêreld se grootste konsessie-liga is Vrydag vir ‘n week lank gestaak te midde van spanning tussen Indië en Pakistan. ʼn Skietstilstand is ʼn dag later bereik. Baie Australiërs wat by die toernooi betrokke is, het teruggekeer huis toe. Krieket Australië sê die hersiene IPL-program bemoeilik voorbereiding vir die eindstryd van die Wêreld-toetskampioenskap teen Suid-Afrika wat volgende maand in Londen gespeel word.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-29-sent teen die dollar, 20-rand-32-sent teen die euro en 24-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-604-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-256-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-62-sent per vat..
# En laastens, vandag is Wêreldskemerkelkiedag, ‘n geesdriftige saluut vir die kuns van mengeldrankies en die wêreldskemerkelkie-kultuur. Die eerste bekende definisie van die woord skemerkelkie het in 1806 in die Amerikaanse koerant, The Balance And Columbian Repository, verskyn. Dit het ‘n skemerkelkie gedefinieer as ‘n stimulerende drankie, saamgestel uit spiritualieë van enige aard, suiker, water en bitterwater. Dit was in wese die bloudruk van wat vandag bekend staan as die outydse skemerkelkie. Van die gewildste skemerkelkies wêreldwyd is die margarita, cosmopolitan, mojito en negroni.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….