Nuus 07:00
BULLETIN 13 Mei 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Donald Trump herhaal sy siening oor volksmoord teen wit boere
# AfriForum sê die vertrek van 49 Afrikaners is ‘n klag teen die ANC
# En krieket: Die IPL hervat na verwagting Saterdag
# President Donald Trump van Amerika het sy standpunt herhaal dat volksmoord in Suid-Afrika plaasvind en sê die media weier om daaroor te berig omdat die vermeende slagoffers wit is. Dit volg nadat ‘n groep van 49 Afrikaners Sondag op ʼn huurvlug na Amerika vertrek het nadat Trump vlugtelingstatus aan wit Afrikaners toegestaan het. Trump sê hy sal na verwagting volgende week met die Suid-Afrikaanse leierskap vergader:
AfriForum het intussen die vertrek van 49 Afrikaners na die VSA as ’n ernstige aanklag teen Suid-Afrika se ANC-geleide regering bestempel. Die regering verwerp egter die bewerings en voer aan dat Afrikaners steeds onder die land se mees ekonomies bevoordeelde groepe tel. AfriForum se uitvoerende hoof, Kallie Kriel, skryf hierdie uittog toe aan die regering se versuim om standpunt in te neem teen beleide soos die Onteieningswet, wat grondonteiening sonder vergoeding moontlik maak:
# Die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologieë, Solly Malatsi, sê die regering het die afgelope twee dekades aansienlike vordering gemaak om toegang tot dienste te verbeter, maar die digitale hervormingsreis was ongekoördineerd. Die minister het die digitale hervorming van die Suid-Afrikaanse regering bekendgestel wat die aanvaarding van digitale tegnologieë in die regering bevorder. Malatsi sê hulle het ʼn vierpuntplan om die regering se gebruik van digitale platforms en tegnologie te verbeter. Dit sluit ʼn enkele, zero-koers digitale diensteplatform en ʼn data-uitruilingsraamwerk in.
# Die DA doen ’n dringende beroep op president Cyril Ramaphosa om ’n ondersoek deur die Spesiale Ondersoekeenheid te bemagtig na ’n dekade van beweerde korrupsie en wanbestuur deur die Johannesburg Property Company. Die party het ’n mosie van wantroue teen burgemeester Dada Morero ingedien en dokumente ter ondersteuning aan die presidensie oorhandig. Belinda Kayser-Echeozonjoku van die DA sê die maatskappy het misluk om die stad se eiendomsbates te bestuur, toegelaat dat geboue gekaap word, en bevindings van toesighoudende liggame geïgnoreer:
# Kim Kardashian getuig vandag in ‘n hof in Parys, byna ‘n dekade nadat sy tydens die modeweek in die Franse hoofstad van juweliersware beroof is. Tien verdagtes, ‘n bende in hul 60’s en 70’s, staan sedert April tereg vir die gewapende rooftog, waartydens juweliersware ter waarde van sowat 182-miljoen-rand van die realiteits-TV-programaanbieder en beïnvloeder gesteel is. Kardashian is in 2016 beroof terwyl sy in ‘n eksklusiewe, diskrete hotel in sentraal-Parys tuisgegaan het. Sy is met ‘n pistool gedreig en vasgemaak met haar mond toegeplak.
# Krieket: Die Indiese Premierliga hervat Saterdag met ʼn hersiene program. Dit is Vrydag vir ʼn week opgeskort na vyandelikhede tussen Indië en sy buurland, Pakistan. ʼn Skietstilstand is ʼn dag later aangekondig. Die IPL sê 17 wedstryde sal by ses plekke gespeel word met die laaste een op 3 Junie, wat oorspronklik op 25 Mei sou plaasvind. Die hersiene program sluit dubbelwedstryde in waar twee elk op twee Sondae sal plaasvind.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-27-sent teen die dollar, 20-rand-29-sent teen die euro en 24-rand-8-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-317-dollar-10-sent. Die prys van goud is drie-duisend-223-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-82-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….