Goeie Nuus 14:00
BULLETIN 12 Mei 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Suid-Afrikaanse rolprentvervaardiger Dian Weys sê hy hoop die land se rolprentbedryf sal aandag trek nadat sy kortfliek gekies is vir die 78ste Cannes-rolprentfees in Frankryk. Aasvoëls is saam met 11 ander uit meer as vier-duisend inskrywings gekies vir die Kortfliek-kompetisie. Die rolverdeling sluit sterre in soos Edwin van der Walt, Jill Levenberg, Albert Pretorius en Oscar Petersen. Die Suid-Afrikaanse regisseur Oliver Hermanus se fliek, The History of Sound, sal aan die Rolprent-kompetisie deelneem. Die fees duur van môre tot die 24ste van die maand.
# Die gevierde Suid-Afrikaanse komediant Kurt Schoonraad se jongste eenmanvertoning, Funny Side Up, is van vandag tot Saterdag in die Baxter-teater in Kaapstad te sien. Schoonraad gebruik die moderne wêreld se belaglikhede om daaglikse chaos te navigeer om silwer randjies in ‘n veranderende wêreld te vind. Hy sê sy terugkeer na die Baxter voel asof hy ‘n kringloop voltooi omdat sy eerste eenmanvertoning, Punchlines, 22 jaar gelede op dieselfde verhoog opgevoer is. Kaartjiepryse wissel van 180- tot 200-rand.
# Die Universiteit van Pretoria het die bekroonde veteraan-joernalis, Neels Jackson, vereer vir sy lewenslange toewyding om die veranderende storie van kerk en geloof in Suid-Afrika te vertel. Die 64-jarige Jackson wat meer as 23 jaar by Beeld gewerk het, het onlangs die Kanseliersmedalje ontvang. Die universiteit sê Jackson het hom tydens sy loopbaan daarop toegelê om die ingewikkelde verhouding tussen geloof, samelewing en verandering vas te vang en dit met duidelikheid, regverdigheid en menslikheid te doen.
# Salusiwe Mxayiya van die Luhlaza High School in Khayelitsha, Kaapstad, verteenwoordig Suid-Afrika op die Internasionale Wetenskap- en Ingenieursfees in Columbus in die Amerikaanse deelstaat Ohio. Meer as duisend leiers van byna elke staat in die VSA en meer as 60 lande, streke en gebiede sal hul navorsingsprojekte aanbied. Salusiwe se projek ondersoek die besmettingsyfers van Hector se lanternvis deur die copepod-parasiet en die uitwerking op die dinamika van die bevolking. Sy is een van die Suid-Afrikaanse leerders wat aan die kompetisie deelneem.
# En ten slotte: Lenny James en Marisa Abela is vereer as beste akteur en aktrise op die BAFTA TV-toekennings in Londen. James het erkenning ontvang vir sy rol in Mr Loverman, terwyl Ariyon Bakare van die reeks aangewys is as beste byspeler. Abela het vir Industry gewen. Jessica Gunning is vereer as byspeler vir haar rol in Baby Reindeer, en spog ook met ʼn Emmy en ʼn Golden Globe. Shōgun is aangewys as beste internasionale reeks. Kirsty Wark het die Television Fellowship-toekenning ontvang vir haar bydrae tot televisie as joernalis en vervaardiger van nuus en aktuele sake.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….