Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 12 Mei 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met atletiek: Die Suid-Afrikaanse viertal, Bayanda Walaza, Sinesipho Dambile, Bradley Nkoana en Akani Simbine het goud verower in die mans vier-maal-100-meter op die Wêreldatletiek-afloskampioenskap in Guangzhou, China. Simbine het die Amerikaner Brandon Hicklin in die laaste skof verbygesteek en die wenstreep oorgesteek in 37,61-sekondes, die vinnigste ter wêreld vanjaar. Amerika was tweede en Kanada derde. Gaerdeo Isaacs, Udeme Okon, Leendert Koekemoer en Zakithi Nene het goud vir Suid-Afrika verower in die mans vier maal 400-meter. Suid-Afrika het ook die brons gewen in die vroue se vier-maal-400-meter.
# Rugby: Nieu-Seeland het Suid-Afrika op die Nelson Mandelabaai-stadion in Gqeberha naelskraaps 48-45 geklop om die Onder-20-Rugbykampioenskapstitel te behou. Die Kiwi’s was 19-0 agter, maar het met net 13 spelers sokkies opgetrek vir ‘n epiese oorwinning. Australië is tweede na ʼn welverdiende sege van 40-36 oor Argentinië, wat laaste is, met Suid-Afrika in die derde plek. Die Junior Springbokke se afrigter, Kevin Foote, het sy span se karakter, aanval en vordering geloof en sê die toernooi was ʼn positiewe leerervaring:
Nog rugby: Die Leeus het 32-19 verloor teen die Walliese span Scarlets in hul Verenigde Rugbykampioenskaps-wedstryd op Ellispark in Johannesburg. Die besoekers het vier drieë gedruk teenoor die gashere se drie en ʼn bonuspunt-oorwinning behaal om hul hoop op die uitspeelronde lewend te hou. Die Leeus se hoop om die uitklopronde te haal, is voor afskoptyd verpletter. Dit volg ná die Italiaanse klub Benetton se bonuspunt-sege van 33-7 oor die verdedigende kampioen, Glasgow Warriors, wat Saterdag hul uitspeel-kans versterk het. Daar bly net een ronde van die gewone seisoen oor.
# Sokker: Manchester United se hoofafrigter, Ruben Amorim, het voorgestel dat hy vervang word indien hy nie volgende seisoen die klub se kultuur kan verander nie. Die Reds het gisteraand hulle Premierligawedstryd teen West Ham op Old Trafford 2-0 verloor. Hulle staan op 39 punte en is 16de op die punteleer, en is onderweg na hulle ergste vertoning sedert hulle relegasieveldtog in 1930/31. Amorim sê hy is verleë oor sy span se vertoning in die kompetisie:
# En laastens, krieket: Die Indiese kolflegende, Virat Kohli, het sy onmiddellike uittrede uit toetskrieket aangekondig, wat ’n einde bring aan sy toetsloopbaan van 14 jaar. Die 36-jarige Kohli het in sy 123 toetse nege-duisend-230 lopies aangeteken, wat 30 honderdtalle en 31 vyftigtalle insluit. Kohli sê hierdie langste formaat van die spel het hom getoets en gevorm, en lesse geleer wat hy lewenslank sal onthou. Hy sê hy stap weg met ’n hart vol dankbaarheid. Kohli se uittrede volg nadat Rohit Sharma ook verlede week sy toetsloopbaan vaarwel geroep het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….