Nuus 08:00
BULLETIN 12 Mei 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Julius Malema sê hy is nie skaam oor die weiering van sy Britse visum nie
# Hamas sê die VSA-Israelse gyselaar Edan Alexander gaan vrygelaat word
# En rugby: Nieu-Seeland is weer die o.20-kampioene
# Die EFF-leier Julius Malema sê hy is nie skaam dat sy visum vir die Verenigde Koninkryk verlede week geweier is nie. Hy sou by die Cambridge-universiteit se Africa Together-konferensie praat. Die Britse Hoëkommissariaat in Suid-Afrika sê Malema se visum kon weens bankvakansiedae in Brittanje nie afgehandel word nie. Malema het gister inwoners in Soweto se Wyk 24 toegespreek voor Woensdag se tussenverkiesing en sê Soweto sal hom altyd verwelkom:
# Die Vryheidsfront Plus in Tshwane het die Arbeidshof se uitspraak verwelkom dat die Bedingingsraad vir Plaaslike Regering onbillik opgetree het toe hy die metro se aansoeke in 2021 en 2022 om vrystelling van loonverhogings verwerp het. Die hof het beslis ‘n salarisverhoging vir 2023 vir munisipale werkers moet nie voortgaan nie, maar dat die 2021-onderhandelinge moet hervat wat destyds ‘n dooiepunt bereik het. Grandi Theunissen van die VF Plus sê dit bevestig die vorige administrasie se verantwoordelike en beginselvaste optrede:
# Business Unity South Africa sê ‘n gesamentlike poging is nodig om die land op ʼn volhoubare opwaartse trajek te plaas en resultate te lewer vir ʼn siklus van groei en werksgeleenthede. Die organisasie is deel van president Cyril Ramaphosa se 2023-vennootskap tussen die regering en sakeondernemings. BUSA sê die verbetering van Eskom se prestasie sal ʼn fokuspunt bly terwyl werk by Transnet gemik is op meer uitvoere en beter invordering om werksgeleenthede en die ekonomie te steun.
# Die militante Hamas-groep sê hy sal die Amerikaans-Israelse gyselaar, Edan Alexander, vrylaat wat volgens berigte die laaste lewende Amerikaanse gyselaar is wat in Gaza gevange gehou word. Hy het in ʼn keur-infanterie-eenheid op die Gaza-grens gedien toe hy op 7 Oktober tydens Hamas se aanval gyselaar geneem is. Hamas sê Alexander se vrylating is deel van pogings om ʼn skietstilstand te bewerkstelling en kos, medisyne en ander voorrade in Gaza te kry. Israel laat dit die afgelope 70 dae nie toe nie.
# Rugby: Nieu-Seeland het Suid-Afrika op die Nelson Mandelabaai-stadion in die Baai naelskraaps met 48-45 geklop om die Onder-20-Rugbykampioenskapstitel te behou. Die Kiwi’s was met 19-0 agter, maar het met net 13 spelers sokkies opgetrek vir ʼn epiese oorwinning. Australië is tweede na ʼn welverdiende 40-36-sege oor Argentinië, wat laaste is, met Suid-Afrika in die derde plek. Die Junior Springbokke se afrigter, Kevin Foote, het sy span se karakter, aanval en vordering geloof en sê die toernooi was ʼn positiewe leerervaring:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-23-sent teen die dollar, 20-rand-47-sent teen die euro en 24-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-en-828-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-275-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar per vat..
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….