Nuus 06:00
BULLETIN 12 Mei 6 VM
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa is op ‘n werksbesoek aan die Ivoorkus
# President Zelensky sê Rusland se oorweging om die oorlog te beëindig, is positief
# En atletiek: Span SA verower drie medaljes by die Wêreld-afloskampioenskap in China
# President Cyril Ramaphosa bring ‘n werksbesoek aan die Ivoorkus om die 12de Forum van Afrika se Uitvoerende Hoofde, wat vandag en môre in Abidjan plaasvind, by te woon. Die tema van vanjaar se sitting is: Kan ‘n Nuwe Ooreenkoms tussen die Staat en die Privaat Sektor die Vasteland ‘n Wenhand Bied? Die presidensie sê Ramaphosa se deelname aan die forum sal Suid-Afrika die geleentheid bied om sy posisie as toonaangewende beleggingsbestemming in Afrika te konsolideer.
# Die DA sê hulle sal ‘n formele versoek om die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting by die minister van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, Mzwanele Nyhontso, indien. Die stap is om die redes vir die minister se grondwetlik kommerwekkende regulasies te bekom waarin die openbaarmaking van ras ‘n vereiste vir eiendomsoordrag is. Die DA-lid, Mlindi Nhanha, sê as Suid-Afrika harde lesse uit die verlede wil leer, moet daar nooit weer wette of regulasies aangeneem word wat ras en identiteit as ‘n wapen gebruik nie:
# Die UDM in Gauteng sê dit is onaanvaarbaar dat senior amptenare hul posisies sonder enige gevolge misbruik terwyl gemeenskappe steeds worstel met swak dienslewering en onderbenutte openbare dienste. Andile Jabavu van die UDM sê 37-persent van die senior amptenare in die provinsiale regering het hul leefstyloudits gedruip en dit is nie bloot ‘n rooi lig wat flikker nie, maar ‘n morele krisis. Hy sê hulle bly verbind tot die bevordering van ‘n skoon, verantwoordbare en mensgesentreerde regering:
# Die Wes-Kaapse Departement van Onderwys vra ondersteuning vir meer as 37-duisend kandidate wat vanaf vandag die 2024 Mei en Junie Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen herskryf. Die departement se woordvoerder, Bronagh Hammond, sê 25-duisend-615 kandidate sal een of meer van hul matriekeksamenvakke herskryf om vakke waarvoor hulle reeds in Graad 12 ingeskryf het, te verbeter of te voltooi. Sy sê ‘n bykomende elf-duisend-609 kandidate sal eksamen skryf om hul Senior Sertifikaat te bekom, wat volwassenes toelaat om hul hoërskoolopleiding te voltooi:
# Die Oekraïnse president Volodymyr Zelensky sê die Russiese president Vladimir Putin se oorweging om die oorlog te beëindig, is ‘n positiewe teken. Putin het voorgestel om Donderdag samesprekings met Kiëf in Turkye te voer om die oorsake van die konflik te verwyder en ‘n langtermynvrede te bewerkstellig. Dit is omdat Putin nie die VSA-gesteunde Europese skietstilstandvoorstel van 30 dae wat vandag moet begin, verwerp het nie. Intussen sê die Franse president, Emmanuel Macron, Putin se voorstel is nie genoeg nie en sê hy soek ‘n uitweg.
# Atletiek: Die Suid-Afrikaanse viertal, Bayanda Walaza, Sinesipho Dambile, Bradley Nkoana en Akani Simbine het goud verower in die mans se 4×100-meter by die Wêreldatletiek-afloskampioenskap in Guangzhou, China. Simbine het die Amerikaner, Brandon Hicklin, agternagesit en die wenstreep in ‘n tyd van 37,61-sekondes oorgesteek, die vinnigste ter wêreld vanjaar. Die VSA was in die tweede plek en Kanada derde. Gaerdeo Isaacs, Udeme Okon, Leendert Koekemoer en Zakithi Nene het goud vir Suid-Afrika in die mans se 4×400-meter verower. Suid-Afrika het ook die brons in die vroue se 4×400-meter gewen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-19-sent teen die dollar, 20-rand-43-sent teen die euro en 24-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-995-dollar-15-sent. Die prys van goud is drie-duisend-279-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-23-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….