Nuus 13:00
BULLETIN 11 Mei 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Nege Zion Christian Church-lede sterf in ‘n botsing op die N2 in KwaZulu-Natal
# Adjunkminister Letsike sê Suid-Afrika gaan steeds gebuk onder die harde realiteite van geslagsgeweld
# En Tennis: Jannik Sinner keer triomfantlik terug na die Italiaanse Ope
# Nege mense is dood toe ‘n insleepwa en ‘n Hyundai-bussie wat 24 lede van die Zion Christian Church vervoer het, vandag op die N2 Noordwaarts naby die Mthunzini-tolhek in KwaZulu-Natal gebots het. Die provinsiale Departement van Vervoer se woordvoerder, Ndabezinhle Sibiyam, sê die kerk se lidmate was meestal moeders wat na Dukuduku in Umtubatuba gereis het. Hy sê die beseerdes is na hospitale geneem en die LUR Siboniso Duma wens hulle ‘n spoedige herstel toe:
# Die adjunkminister vir Vroue, die Jeug en Persone met Gestremdhede, Mmapaseka Letsike, sê Suid-Afrika gaan steeds gebuk onder die harde realiteite van geslagsgeweld teen vroue en meisies. Sy sê die 2022 studie oor die voorkoms van geslagsgeweld dui aan een uit elke drie vroue, of 7,3-miljoen, ervaar fisieke geweld in hul lewens of het dit al ervaar. Letsike sê dit beteken byna een uit elke tien vroue het seksuele geweld aangemeld met meer as ‘n kwart daarvan deur intieme maats:
# Die GOOD Party sê dit is afstootlik dat ‘n groep relatief bevoorregte Suid-Afrikaners, wat valslik beweer dat hulle sistematies van hul grond en lewensgehalte gestroop word, daarop geregtig kan wees om hul rykdom in geld om te sit. Die sekretaris-generaal van die GOOD Party, Brett Herron, sê dit is tyd dat Suid-Afrika uiteindelik die Rubicon van demokrasie oorsteek en van sy rykdom herverdeel om ongelykheid te verminder en ‘n volhoubare basis te skep:
# Jubeling oor die nuwe pous het vandeesweek vinnig getaan toe mense aan die voortou van Donald Trump se Make America Great Again-beweging besef het die eerste Amerikaanse Pous stel nie noodwendig Amerika eerste nie. Pous Leo het voorheen kommer uitgespreek oor behoeftiges en immigrante en dit blyk dat hy die ontslape meer liberale pous Franciskus ondersteun het én die Amerikaanse president se beleid op sosiale media gekritiseer het. ‘n Gewese amptenaar van die Withuis, Steve Bannon, voorspel wrywing tussen die nuwe pous en Trump.
# Ten slotte tennis: Jannik Sinner is moeiteloos terug op die tennisbaam nadat hy drie maande verban was weens verbode middels. Sinner het Mariano Navone by die Italiaanse Ope in skoon stelle geklop met 6-3, 6-4. Die wêreld-nommer-een het die Argentyn binne ‘n uur en 39 minute voor ‘n skare van meer as tien-duisend ondersteuners verslaan en kom nou in die derde ronde teen die gelukkige verloorder Jesper de Jong te staan. Sinner het sedert hy die Australiese Ope in Januarie gewen het, nie weer gespeel nie. Hy het egter ‘n volgepakte hoofbaan in die Italiaanse hoofstad bekoor met sy oog stewig op Roland Garros later die maand.
Intussen is die heersende kampioen Iga Swiatek Saterdag by die Italiaanse Ope uitgeskakel na ‘n nederlaag van 6-1, 7-5 teen Danielle Collins. Swiatek se vroeë uitskakeling is ‘n groot skok, aangesien sy gewoonlik haar teenstanders op klei oorheers, en boonop ‘n uiters indrukwekkende rekord in die Italiaanse hoofstad het. Met Roland Garros om die draai is die manier waarop sy uitgeskakel is, ook kommerwekkend. Sy is tydens die Madrid Ope vroeër hierdie maand in skoon stelle deur Coco Gauff in die halfeindronde geklop.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….