Nuus 11:00
BULLETIN 11 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA verwelkom die inhegtenisneming en naderende deportasie van Timothy Omotoso
# Die polisie begin met ‘n soektog ná onwettige olifantjag en vergiftiging van aasvoëls in die Kruger Nasionale Park
# En Atletiek: Akani Simbine speel ‘n groot rol in Suid-Afrika se vinnigste 4x100m-tyd vir 2025
# ActionSA se president Herman Mashaba verwelkom die inhegtenisneming van die Nigeriese televisie-evangelis Timothy Omotoso gister in Oos-Londen in die Oos-Kaap. Hy sê ActionSA is veral bly om te verneem hy gaan uiteindelik uit Suid-Afrika na Nigerië gedeporteer word aangesien hy onwelkom is in ‘n land waar hy die wette vertrap en mense met minagting behandel het:
# Die polisie in Limpopo het ‘n omvattende soektog van stapel gestuur na verdagtes wat verantwoordelik is vir die onwettige jag van ‘n olifant en die vergiftiging van die karkas wat gelei het tot die dood van talle beskermde aasvoëls in die Kruger Nasionale Park. ‘n Polisiewoordvoerder, Malesela Ledwaba sê stropers het ‘n vangstrik gebruik om die olifant te vang en daarna sy karkas met gif bedek, wat tot die vrekte van meer as ‘n 100 aasvoëls gelei het, nadat hulle aan die besmette karkas gevreet het:
# Die GOOD-party het formele vrae aan die Kaapstadse burgemeester, Geordin Hill-Lewis, gerig, ingevolge reël 22 van die ordereëls, wat vereis dat Hill-Lewis aan die Raad verantwoording moet doen. GOOD eis dringende antwoorde oor politieke rugsteuning en die aanstelling van voormalige opposisie-raadslede in sy kantoor. Die party se woordvoerder, Samantha Jackson, sê hulle eis volle deursigtigheid oor hoe deeglik die prosesse gevolg is, en of hierdie aanstellings aan die stad se bestuur en raamwerke voldoen:
# Die Russiese president Vladimir Putin het Saterdag laatnag ‘n seldsame televisie-toespraak vanuit die Kremlin gelewer en ‘n beroep gedoen vir regstreekse gesprekke met Oekraïne. Putin wil die hoofoorsake van die konflik uit die weg ruim en begin beweeg na ‘n blywende, gevestigde vrede. Dit volg ure nadat Europese leiers Oekraïne besoek het en Rusland aangespoor het om in te stem tot ‘n onvoorwaardelike 30-dae wapenstilstand. Oekraïne se president Volodymyr Zelensky het leiers uit Frankryk, Duitsland, die Verenigde Koninkryk en Pole ontvang. Hulle het tydens ‘n gesamentlike nuuskonferensie gewaarsku daar sal nuwe reusesanksies teen Rusland opgelê word indien Putin nie instem tot die wapenstilstand nie.
# En Atletiek: Suid-Afrikaanse aflosspanne het ‘n goeie dag gehad by die Wêreld-afloskampioenskappe in Guangzhou, China, met vier Suid-Afrikaanse spanne wat vir vandag se eindrondes gekwalifiseer het. Danksy ‘n foutlose vertoning van spoed en tegniek het die 4-by-100-meter-atlete Bayanda Walaza, Sinesipho Dambile, Bradley Nkoana en Akani Simbine die wêreld se beste tyd vanjaar van 37.84 sekondes aangeteken en as die vinnigste kwalifiseerders na die eindronde deurgedring. Die mans se 4-by-400-meter-span is ook gunstelinge nadat hulle die vinnigste tyd van die jaar opgestel het. Die vroue- en die gemengde 4-by-400-meter-spanne het ook gekwalifiseer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….