Nuus 09:00
BULLETIN 11 Mei 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die SAPD vra twee verdagtes in die moordsaak van Aserie Ndlovu en Zodwa Mdhluli om hulself oor te gee
# Eskom voorsien nie die implementering van beurtkrag dié winter nie
# En Rugby, goeie oorwinnings vir die Bulle en die Stormers in die Verenigde Rugby Kampioenskap
# Die polisie vra Thato Madisha en Sello Uoane om hulleself by hul naaste polisiestasie oor te gee. Polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê die twee is verdagtes in die saak van die vermoorde joernalis, Aserie Ndlovu en sy lewensmaat Zodwa Mdhluli. Die paartjie se liggame is gevind in die KwaMhlanga-omgewing in Mpumalanga. Sy sê die polisie glo die verdagtes het ‘n rol gespeel of beskik oor inligting rondom hul ontvoering en moord:
# Eskom sê hulle voorsien nie dat beurtkrag dié winter geïmplementeer gaan word indien onbeplande onderbrekings laer as 13-duisend megawatt bly nie. Eskom het Maandag sy Wintervooruitsig vir die tydperk tot 31 Augustus gestel, wat van krag bly. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê indien onderbrekings tot 15-duisend megawatt styg, sal beurtkrag tot ‘n maksimum van 21 dae uit 153 dae in Fase 2 beperk word:
# ActionSA in Gauteng vra die premier, Panyaza Lesufi, om vinnige en beslissende stappe te doen teen alle provinsiale regeringsamptenare wat nie hul leefstyloudits geslaag het nie. Zwelithini Mtshali van ActionSA sê strafregtelike klagte moet gelê word, en die Bateverbeurdingseenheid moet beslag lê op bates wat deur misdaad verkry is. Hy sê die uitslag van die oudits en die gevolglike stappe moet openbaar gemaak word om vertroue in die regering te herstel en verantwoordbaarheid te verseker:
# Indië en Pakistan het mekaar die skuld gegee vir verbrekings, ure nadat hulle ooreengekom het op ‘n wapenstilstand wat die VSA bemiddel het. Die ooreenkoms vir ‘n volledige en onmiddellike wapenstilstand het gevolg ná vier dae van oorgrensaanvalle. Pakistan het later bevestig ‘n ooreenkoms is deur die twee lande bereik en het bygevoeg verskeie lande was by die proses betrokke. Indië het egter later aangekondig daar was ‘n skending van die vroeëre ooreenkoms. Pakistan het in reaksie hierop gesê hy bly steeds verbind tot die implementering van die wapenstilstand, ten spyte van Indië se verbreking daarvan.
# En ons sluit af met rugbynuus: Die Stormers is danksy gister se oortuigende oorwinning van 48-12 oor die Dragons op ‘n nat Kaapstad-stadion, nog nader aan die uitspeelrondes van die Verenigde Rugby Kampioenskap. Die Kapenaars het in hul voorlaaste ligawedstryd sewe drieë geduik teenoor die Dragons se twee en met ‘n bonuspunt die vyfde plek op die punteleer verseker. Hulle laaste ligawedstryd is volgende Vrydag op hul tuisveld teen Cardiff. Die Stormers se drieë is gedruk deur Wandisile Simelane met twee, Seabelo Senatla, Stefan Ungerer, Damian Willemse, Suleiman Hartzenberg en Paul de Wet. Sacha Feinberg-Mngomezulu en Damian Willemse het die res met die skoen aangeteken.
En die Bulle is nog nader aan ‘n tuishalfeindstryd na ‘n verpletterende oorwinning van 45-21 op Loftus Versfeld oor die Walliese span Cardiff, danksy ‘n kragtige voorspeler-vertoning en ‘n meesterklas deur Willie le Roux. Le Roux het as spelmaker ingespring en gehelp met drie van die Bulle se drieë, nadat ‘n beseerde Johan Goosen die veld moes verlaat. Vir die Bulle het Harold Vorster, Wilco Louw, Canan Moodie en Cameron Hanekom elkeen ‘n drie gedruk, met twee deur Sebastian de Klerk. Keagan Johannes het met vyf doelskoppe geslaag, met Johan Goosen wat nog ‘n doelskop en ‘n strafskop bygevoeg het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….