Nuus 15:00
BULLETIN 9 April 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Vervaardiging krimp weer met produsie wat in Maart 0,8-persent afneem
# Kommer oor honderde skole wat nie meer wiskunde as vak aanbied nie
# En krieket: Shukri Conrad is nou die Protea-mans se afrigter in al drie formate
# Statistiek Suid-Afrika sê vervaardigingsproduksie het in Maart met 0,8-persent gedaal vergeleke met dieselfde maand verlede jaar. Die grootste dalings is aangeteken in die vervaardiging van rubber- en plastiek produkte, die petroleum- en chemiese sektor, asook elektriese masjinerie. Nicolai Claassen van Stats SA sê voedsel, drank en motorvervaardiging is van die sektore wat die ergste geraak is:
# Die Vereniging van Staatsamptenare het kommer uitgespreek ná ‘n onlangse onthulling dat 464 openbare skole in Suid-Afrika nie meer wiskunde as vak aanbied nie. Die betrokke skole is in KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap, Limpopo en die Wes-Kaap. Claude Naiker van die vereniging versoek die Departement van Basiese Onderwys om die werwing en behoud van geskoolde wiskunde-onderwysers voorop te stel en afgetrede onderwysers te herroep:
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê die wêreld moet sy pad vind in ‘n vinnig-ontwikkelende geopolitieke omgewing wat deur toenemende globale mededinging, ekonomiese wisselvalligheid en toenemende geopolitieke spanning gekenmerk word. Hy het gepraat tydens die Gertrude Shope-Vrouebemiddelingsnetwerk se Solidariteitskonferensie vir Vroue, Vrede en Sekerheid in Pretoria, rondom die tema “Stemme van Vroue in ‘n Globale Omgewing van Toenemende Konflik”. Lamola sê daar is tans meer as 50 voortgesette gewapende konflikte in die wêreld:
# Die Amerikaanse media berig president Donald Trump se administrasie beplan om volgende week die eerste groep wit Suid-Afrikaners te hervestig. Die Amerikaanse ondersoekende nuusagentskap, The Lever, het eerste berig oor die vestigingsplan en ‘n dokument van 30 April aangehaal waarin gesê word Suid-Afrikaners is geskeduleer om binne ‘n paar dae daar te wees. Volgens The Lever is daar planne om vanjaar tot ‘n duisend Afrikaners te hervestig. Die agentskap het ook ‘n regeringsbron aangehaal. National Public Radio en die New York Times het gesê die groep sal Maandag aankom, afhangend van logistieke reëlings.
# Krieket: Shukri Conrad is aangestel as hoofafrigter van die Protea-manspan in al drie formate. Hy het sedert Januarie 2023 die toetsgroep gelei en sal nou ook toesig hou oor die witbalformate. Dit begin met die driehoekige T20-toernooi teen Zimbabwe en Nieu-Seeland in Julie. Conrad se termyn strek tot met 2027 se eendag-Wêreldbekertoernooi wat in Suid-Afrika, Namibië en Zimbabwe aangebied sal word. Krieket Suid-Afrika sê die stap is deel van ‘n herstrukturerings-proses.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-17-sent teen die dollar, 20-rand-45-sent teen die euro en 24-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-dollar-38-sent. Die prys van goud is drie-duisend-329-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-86-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….