Goeie Nuus 14:00
BULLETIN 9 Mei 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Mej SA 2010, Bokang Montjane-Tshabalala, is aangestel as die nuwe nasionale direkteur van Mej Supra-Nasionaal Suid-Afrika. Sy sê aansluiting by die organisasie het die kring vir haar voltooi. Die Mej Supranasionaal-kompetisie vind volgende maand in Pole plaas. Montjane-Tshabalala sê die organisasie het ‘n sterk en inspirerende rekord in die land opgebou en vroue opgelewer wat nie net skoonheid en grasie verteenwoordig nie, maar ook doelgerigtheid, krag en visie:
# Die Universiteit van Pretoria het ‘n eredoktorsgraad aan professor Christina Landman toegeken wat die eerste Suid-Afrikaanse vrou is wat ‘n professor in Teologie aan enige universiteit in die land geword het. Die instelling sê Landman is een van die mees onbevooroordeelde leiers in teologie, wat ‘n beduidende uitwerking op Christelike denke en praktyk in Suid-Afrika het. Landman sê die eredoktorsgraad is ‘n erkenning van wat vroue tans in die akademie, die kerk en gemeenskapswerk kan bereik:
# Die organiseerders van die Nasionale Kunstefees het vanjaar se programsamestelling bekend gemaak wat ‘n mengsel is van plaaslike en internasionale werke. Rehane Abrahams is na ‘n lang onderbreking terug met ‘n nuwe werk, The Fuge of Tjebolang. Die gewilde acapella-groep, The Soil maak ook ‘n welkome terugkeer met hulle energieke vokale harmonie. Die Britse geselskap, Action Hero, bring hulle bekroonde eksperimentele teaterwerk, The Talent, na vanjaar se fees wat van 26 Junie tot 6 Julie in Makhanda in die Oos-Kaap gehou word.
# Breadline Africa het ‘n volledig toegeruste, voorafvervaardigde kombuis aan Diepsloot Primary School in Gauteng verskaf. Die skenking sal verseker dat meer as tweeduisend leerders daaglikse voedsame maaltye ontvang. Die nuwe kombuis vervang ‘n beknopte, verouderde ruimte en maak reeds ‘n groot verskil. Die skoolhoof, Johannes Makhafola, het die projek geprys en gesê dit wys hoe nie-regeringsorganisasies en sakeondernemigs suksesvol kan saamwerk om onderwys te ondersteun en gemeenskappe met te min hulpbronne op te hef.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse Rooi Kruis se Lugnooddiens, AMS, het ‘n skenking van twee-duisend teddiebere ontvang wat deur ‘n sagte speelgoed-veldtog ingesamel is onder leiding van Gordonsbaai Toerisme in die Wes-Kaap. Die teddiebere sal na die diens se bedryfsbasisse in die provinsie, die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal geneem word vir vedere verspreiding aan hospitale en klinieke. Helene Wilson van die Stad Kaapstad sê talle van die teddiebere sal uitgedeel word aan kinders in landelike hospitale en klinieke wat langtermynsiektes het en van beserings en trauma herstel:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….