Nuus 11:00
BULLETIN 9 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Valke gaan voort met hul ondersoek van hoogverraad teen AfriForum en Solidariteit
# Die media wil die hofverrigtinge van die saak van die vermiste joernalis regstreeks uitsaai
# En Donald Trump kondig ‘n handelsooreenkoms tussen Amerika en Brittanje aan
# Die hoof van die Valke, Godfrey Lebeya, sê die vier hoogverraad-dossiere waarby AfriForum en Solidariteit betrek word, word steeds ondersoek. Die sake handel oor die beweerde verspreiding van waninligting in Amerika oor Suid-Afrika se Onteieningswet, en bewerings teen president Cyril Ramaphosa en die ANC. AfriForum hou vol dat geen regsgronde bestaan vir die aanklagte nie. Lebeya sê hierdie soort sake moet versigtig benader word:
# Die Nasionale Persklub en die Afrika-media- en kommunikasieforum sê hulle is geskok en hartseer oor die dood van die Pretoriase joernalis Sibusiso Aserie Ndlovu en sy lewensmaat, Zodwa Precious Mdhluli. Hulle het in Februarie vermis geraak. Die polisie het gister die oorskot van twee mense by Rust De Winter in Limpopo gevind – vermoedelik van die twee. Vyf verdagtes is in hegtenis geneem. Die Persklub se waarnemende voorsitter, Antoinette Slabbert, sê hulle wil die hofverrigtinge regstreeks uitsaai:
# Transnet Haweterminale vorder met sy operasionele doeltreffendheid en batebelegging sedert die bekendstelling van sy omkeerstrategie in Oktober 2023. Die uitvoerende hoof, Jabu Mdaki, het tydens ‘n Vervoerforum verwys na koste-doeltreffendheid en kliënte-fokus op die land se 21 hawens. Transnet se bedryfshoof, Solly Letsoalo, het verbeterings by die Durbanse en Kaapstadse terminale uitgewys. Hy beklemtoon ook dat Transnet groei aanvuur en logistieke onkoste verminder met digitale opgraderings, samewerking met die privaat sektor en ‘n vragteiken van 250-miljoen ton binne vyf jaar.
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, het ‘n handelsooreenkoms met die Verenigde Koninkryk aangekondig. Hy het die tarief van 25-persent op Britse staal en aluminium geskrap en die koers op motor-uitvoere van 27,5-persent tot tien-persent verlaag. In ruil daarvoor het Brittanje die tarief op etanol verwyder. Trump sê Amerika sluit met dié ooreenkoms by die Verenigde Koninkryk aan om wederkerige billikheid as ‘n belangrike beginsel van internasionale handel te bevestig:
# Krieket: Die agt oorblywende wedstryde van die Pakistanse Superliga is na die Verenigde Arabiese Emirate verskuif weens die toenemende spanning op die grens met Indië. Minstens 31 burgerlikes is dood en 46 gewond toe Indië Woensdag missielaanvalle uitgevoer het in Pakistan en dele van Kasjmir wat deur Pakistan geadministreer word. Volgens berigte het een hommeltuig nie reg gevuur nie, wat ‘n ontploffing naby die Rawalpindi-krieketstadion veroorsaak het. Die PSL se organiseeders sê hulle wil baie graag die toernooi voltooi, maar spelers se veiligheid word vooropgestel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-22-sent teen die dollar, 20-rand-18-sent teen die euro en 24-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-409-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-328-dollar-92-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-13-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….