Nuus 07:00
BULLETIN 9 Mei 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Donald Trump sê die verkiesing van ‘n eerste Amerikaanse pous is ‘n groot eer
# Die DA bevraagteken die geheimhouding oor Paul Mashatile se BBP-groep
# En rugby: Die land se Verenigde Rugbykampioenskap-spanne berei voor vir ‘n Walliese inval
# President Donald Trump sê die verkiesing van Robert Prevost as die nuwe pous, die eerste Amerikaner wat tot leier van die Katolieke Kerk verkies is, is ‘n groot eer vir die land. Pous Leo die 14de is gister deur 133 kardinale as die 267ste pous verkies op die tweede dag van hul kardinaalsvergadering agter geslote deure in die Sistynse Kapel. Trump sê hy sien uit daarna om die nuwe pous te ontmoet. Pous Leo die 14de sal na verwagting voortbou op wyle Pous Franciskus se hervormings.
# Die DA sê die publiek het die reg om te weet hoe adjunkpresident Paul Mashatile se agt BBP-lyfwagte daarin geslaag het om aanspreeklikheid vry te spring, ná die aanranding van burgerlikes op ’n snelweg in Gauteng in 2023. Die party het ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting ingedien om die besluit en die redes vir die vryspraak bekend te maak. Ian Cameron van die DA sê die polisie se interne ondersoek het die beamptes vrygespreek ten spyte van duidelike video-beeldmateriaal, sonder om volledige redes te verskaf.
POPCRU verwelkom intussen die feit dat die beamptes vrygespreek is, maar veroordeel openbare aanvalle tydens die regsproses. Die vakbond het Cameron, skerp gekritiseer omdat hy die beamptes boewe genoem het. POPCRU sê Cameron se kommentaar was roekeloos, is naamskending en bedreig die vertroue tussen die polisie en die gemeenskap. POPCRU eis sy verwydering en ‘n parlementêre etiek-ondersoek, met verwysing na die misbruik van toesigmag en die ondermyning van ‘n behoorlike regsproses.
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sê die regering moet ekonomiese hervorming versnel om vinniger en inklusiewer groei oor die volgende vyf jaar te dryf. Die tweede fase van Operasie Vulindlela sal die tempo van hervormings wat reeds in fase een begin het, verhoog. Godongwana sê verbintenis tot die vinnige toepassing van hervormings is nodig om sakekoste te verlaag, regulatoriese knelpunte te verminder en beleidsekerheid te bied. Hy sê dit sal weer belegging bevorder, uitvoere ondersteun, werkskepping moontlik maak en groei versterk.
# Die Gautengse LUR vir Onderwys, Matome Chiloane, sê hy is verpletter deur die tragiese dood van ‘n 18-jarige seun van Musi High School in Soweto. Simphiwe Biyela is na bewering deur ‘n student van die Universiteit van Johannesburg met ‘n mes gesteek terwyl hy op pad huis toe was. Die voorval het Woensdag tot ontwrigting by die skool en ander skole in Pimville gelei. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê die polisie ondersoek die omstandighede rondom die moord op Biyela:
# Rugby: Suid-Afrika se Verenigde Rugbykampioenskap-spanne berei voor vir ’n Walliese inval hierdie naweek. Terwyl die Bulle reeds hul plek in die top vier verseker het, is alle oë op die Haaie, wat hoop om ’n tuis-kwarteindstryd te beklink. Die Stormers en Leeus, moet hulle wedstryde wen om die top agt te haal. Die Haaie speel vanaand in Durban teen die Ospreys. Môre kom die Bulle in Pretoria teen Cardiff te staan en die Stormers speel teen die Dragons in Kaapstad. Die Leeus verwelkom die Scarlets Sondag in Johannesburg.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-26-sent teen die dollar, 20-rand-48-sent teen die euro en 24-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-684-dollar-70-sent. Die prys van goud is drie-duisend-302-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-92-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….