Goeie Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 4 Januarie 2 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Suid-Afrikaners gaan vanjaar twee bykomende openbare vakansiedae geniet, soos voorgeskryf deur die Wet op Openbare Vakansiedae. Die land verloor egter ook ‘n vakansiedag omdat Vryheidsdag op ‘n Saterdag val. Burgers sal op 17 Junie ‘n bykomende dag af hê om Jeugdag te herdenk, wat op ‘n Sondag val. Die tweede bonusvakansiedag is op die dag van die algemene verkiesing, wat president Cyril Ramaphosa na verwagting tot openbare vakansiedag sal verklaar. Die skrikkeljaar bevoordeel egter ook werkgewers, want dit voeg ‘n ekstra werkdag by die kalender.
# Die Stad Kaapstad sê verlede jaar was die beste ten opsigte van geleenthede sedert voor die Covid-19-pandemie. Die stad se Geleentheidspermitkantoor het meer as duisend-200 geleenthede goedgekeur. Navorsingstudies oor drie sleutelgeleenthede wat gedurende hierdie tydperk in die stad aangebied is, toon ‘n beduidende ekonomiese uitwerking van twee-miljard-rand. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê ʼn bykomende 1,9-miljard-rand se ekonomiese bedrywighede is verdien deur slegs 20 van die geleenthede wat in 2023 aangebied is:
# Die Twee Oseane Akwarium-stigting, in samewerking met FNB en Kaapstad-strandopruim, pak môre hulle derde somer-skoonmaakreeks op Seepunt se Broken Baths-strand. Die veldtog het ten doel om die rommel en afval te verwyder wat oor die feestyd op die strande ophoop. FNB se kommersiële provinsiale hoof in die Wes- en die Oos-Kaap, Stephan Claassen, onderstreep die geleentheid om bewustheid te verhoog van die gevare van plastiekbesoedeling en veranderings te bring in verbruikersgedrag, deur meer deurdagte besluite aan te moedig oor daaglikse plastiekgebruik.
# Die hond Lucy word as ‘n heldin geprys in ‘n dorp in Arlington in Amerika nadat sy haar eienaars wakker gemaak het om hulle te waarsku oor ‘n brand oorkant die straat. Die gemengde-ras hond se buitengewone manier van blaf het veroorsaak dat Douglos O’Connor uit die bed gespring het. Dis toe hy gesien het die bure se werkswinkel is aan die brand. Hy het die owerhede ontbied, wat die vlamme kon blus voordat dit na die huis versprei het waar die eienaars nog vas aan die slaap was. Die brandbestryders het later teruggekeer om Lucy ‘n welverdiende kopkrap te gee.
# En ten slotte: ‘n Vrou wie se handsak gesteel is, het dit teruggekry, maar eers nadat dit 30 jaar later in Aberdeen in Skotland uitgespoel het. Die 81-jarige Audrey Hay sê haar handsak is by haar werkplek in die stad gesteel. Die dief het skynbaar die geld daaruit geneem en die handsak toe in die Don-rivier gegooi. ‘n Elfjarige meisie, Maisie Coutts, en haar ouers het Dinsdag naby die mond van die rivier gestap toe sy die handsak opmerk. Hulle het Hay se naam op ‘n kredietkaart in die handsak gevind en haar deur sosiale media opgespoor.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….