Nuus 06:00
BULLETIN 9 Mei 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Robert Prevost word verkies as die eerste Amerikaanse pous
# Die Presidensie betreur die dood van die joernalis Aserie Ndlovu en sy lewensmaat
# En die vergiftiging van ‘n olifantkarkas laat 123 bedreigde aasvoëls in die Krugerwildtuin vrek
# Die 69-jarige Robert Prevost van die VSA is gekies as die 276ste pous, die eerste Amerikaanse pous in die geskiedenis. Prevost wat in Chicago gebore is, sal bekend staan as Pous Leo die 14de. Sy verkiesing kom ten spyte van die Vatikaan se teenkanting teen ‘n pous uit die VSA, vanweë die land se supermoondheidstatus. Prevost is in 2023 deur wyle Pous Franciskus as kardinaal aangestel. Hy het die skare in die St. Pietersplein toegespreek en die wens uitgespreek dat die Katolieke kerk altyd vrede en eenheid nastreef.
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê Suid-Afrika moet sy pogings verskerp om bekostigbare medisyne plaaslik te vervaardig om afhanklikheid van buitelandse bronne te verminder, ná befondsingsbesnoeiings deur die VSA. Tydens die Nasionale Vergadering se mondelinge vraesessie het hy gesê die regering ondersoek vennootskappe met lande soos China, asook ander in Europa en Asië, om toegang tot goedkoper medisyne te verkry. Mashatile sê Afrika moet meer selfstandig word om toegang tot gesondheidsorg te verbeter:
# Die adjunkminister in die Presidensie, Kenny Morolong, het sy innige meegevoel betuig na die tragiese dood van die joernalis Aserie Ndlovu en sy lewensmaat Zodwa Mdhluli. Die twee was sedert Februarie vermis. Hul liggame is ontdek ná ‘n omvattende polisie-ondersoek, wat gelei het tot vier arrestasies. Morolong het die wrede moorde veroordeel en Ndlovu se bydrae tot demokrasie deur joernalistiek geprys. Hy het die regering se verbintenis tot die veiligheid van burgers en die beskerming van die media in Suid-Afrika herbevestig.
# Die DA in Johannesburg het klagtes van strafbare manslag ingedien teen die uitvoerende hoof van die Johannesburgse Eiendomsmaatskappy, Helen Botes, oor die brand in die Usindiso-gebou in Augustus 2023 wat 77 lewens geëis het. Nicole Rahn van die DA verwys na growwe nalatigheid en jare sonder enige optrede ondanks waarskuwings. Sy sê die Khampepe-kommissie het dissiplinêre optrede aanbeveel, maar geen stappe is gedoen nie. Rahn eis ’n volledige ondersoek en geregtigheid vir die slagoffers en hul gesinne:
# Die Krugerwildtuin is geskok oor die massavergiftiging wat tot die dood van 123 aasvoëls gelei het. Hulle het vermoedelik aan ’n vergiftigde olifantkarkas gevreet wat waarskynlik deur stropers met landbouchemikalieë behandel is. Die voëls sluit kritiek-bedreigde witrugaasvoëls, Kaapse aasvoëls en lappetgesig-aasvoëls in. Reddingspanne het daarin geslaag om 84 aasvoëls te red met noodbehandeling. SANParke en die Trust vir Bedreigde Natuurlewe beskryf dit as een van die ergste vergiftigings-voorvalle in die wildtuin se geskiedenis. Hulle beklemtoon ook die toenemende bedreiging vir Afrika se aasvoëlbevolkings.
# Rugby: Die meerderheid van die Britse en Ierse Leeus se span vir vanjaar se toer na Australië kom van Ierland en Engeland. Kaptein Maro Itoje word vergesel deur 12 ander spelers van Engeland, terwyl Ierland 15 spelers in die groep het. Skotland word deur agt spelers verteenwoordig, terwyl Wallis se 17 opeenvolgende toetsverliese weerspieël word deur die feit dat slegs kaptein Jac Morgan en skrumskakel Tomos Williams ingesluit is. Die Suid-Afrikaans-gebore Skotse spelers Duhan van der Merwe en Pierre Schoeman is ook in die groep.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-20-sent teen die dollar, 20-rand-43-sent teen die euro en 24-rand-11-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-898-dollar-60-sent. Die prys van goud is drie-duisend-316-dollar-99-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-17-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….