Nuus 15:00
BULLETIN 8 Mei 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika worstel met ‘n dreigende aardgastekort ondanks aflandige ontdekkings
# Zondo bevraagteken die Parlement se pogings om teen korrupsie op te tree
# En Iran verwerp bewerings van betrokkenheid by ‘n komplot om die Israeliese ambassade in Londen te teiken
# Suid-Afrika maak gereed vir ‘n tekort aan aardgas volgende jaar, ondanks aflandige ontdekkings tussen 2019 en ’20. Die Petroleum-agentskap se waarnemende uitvoerende hoof, Bongani Sayidini, berig die Brulpadda- en die Luiperd-velde aflandig van die Suid-Kaapse kus het nie kommersieel lewensvatbare hoeveelhede opgelewer nie. Die voorsitter van die raadgewende raad van Wits se Sakeskool, Priscillah Mabelane, sê Mosambiek se gasvoorraad, wat tans noodsaaklik is vir Suid-Afrika, begin uitgeput raak, met invoere wat na verwagting teen volgende jaar sal eindig:
# Die voormalige hoofregter, Raymond Zondo, het twyfel uitgespreek oor die Parlement se instel van teenkorrupsie-maatreëls ná die aanbevelings van die staatskapingskommissie. Zondo het tydens die 15de Statebond-streekkonferensie vir hoofde van teenkorrupsie-agentskappe in Afrika gevra of die Parlement hervormings ingestel het om toekomstige korrupsie te voorkom. Hy het die behoefte aan sterker toesig- en verantwoordingsmeganismes beklemtoon om ingewortelde korrupsie aan te pak en openbare vertroue in die regering te herstel:
# Iran se minister van Buitelandse Sake, Abbas Araghchi, verwerp bewerings dat sy regering betrokke was by ‘n komplot om die Israeliese ambassade in Londen te teiken nadat sewe Iranse burgers in hegtenis geneem is. Die Britse polisie sê hulle is aangekeer vir moontlike terrorisme-oortredings. Brittanje se minister van Binnelandse Sake, Yvette Cooper, sê die inhegtenisnemings volg te midde van verhoogde kommer oor Iranse bedrywighede.
# Motorsport: Die voorloper in die Formule Een-bestuurderskampioenskap, Oscar Piastri, voel jammer vir sy Australiese landgenoot Jack Doohan nadat Alpine hom afgedank het. Die nuweling is vervang met die Argentynse reserwebestuurder Franco Colapinto vir minstens die volgende vyf wedrenne, beginnende op Imola volgende naweek. Piastri sê dis moeilik om F1 te bereik en Doohan kan trots wees op hoe ver hy gekom het. Doohan se afgradering na toetsbestuurder volg op dié van die Nieu-Seelander Liam Lawson van Red Bull ná ’n soortgelyk onoortuigende begin van die seisoen.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-14-sent teen die dollar, 20-rand-51-sent teen die euro en 24-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 99-duisend-580-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-343-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 61-dollar-89-sent per vat.
# En laastens, die Sweefspoor Liefdadigheidsuitdaagwedloop in Kaapstad is uitgestel tot Sondag weens verwagte slegte weer. Tydens die wedloop, wat oorspronklik vir Saterdag beplan is, sal deelnemers Platteklip-ravyn op Tafelberg uitklim om fondse in te samel vir liefdadigheidsorganisasies wat kwesbare vroue en kinders ondersteun. Die organiseerders moedig stappers, drawwers en ondersteuners aan om steeds saam te staan vir hierdie belangrike geleentheid. Die mikpunt is om ‘n miljoen-rand in te samel, met alle opbrengste ten bate van plaaslike organisasies sonder winsoogmerk.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….