Nuus 13:00
BULLETIN 8 Mei 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Moody’s sny Suid-Afrika se groei voorspelling vir 2025 na 1,5-persent
# Die Britse hoëkommissariaat vra Malema om verskoning oor sy visumvertraging vir die Cambridge-konferensie
# En motorsport: Bradley Cox van Suid-Afrika kry bevordering na RallyGP
# Moody’s het sy voorspelling vir Suid-Afrika se BBP-groei vir vanjaar afwaarts aangepas na 1,5-persent – ’n afgradering van 0,2-persentasiepunte teenoor Februarie se vooruitskatting van 1,7-persent. Die agentskap verwys na wêreldwye beleidsonsekerheid en toenemende handelspanning. Plaaslike ekonome glo selfs dié vooruitskatting is optimisties, en verwag dat die Nasionale Tesourie die syfers moontlik verder kan verlaag in die begroting. Die afgradering weerspieël voortgesette plaaslike ekonomiese uitdagings en ’n verswakkende wêreldomgewing. Moody’s voorspel dat die wêreldekonomie vanjaar met 1,9-persent sal groei, en volgende jaar met 2,3 persent.
# ActionSA sê hy gaan die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologie, Solly Malatsi, skriftelik versoek om dringend by die Staatsnligtingstegnologie-agentskap in te gryp om die leierskap en bestuur bestendig te maak. Alan Beesley van die party sê die onlangse verslag van die Ouditeur-generaal aan die Parlement se staande komitee oor Openbare Rekeninge skilder ‘n donker prentjie van SITA se vertoning. Hy sê in plaas van die vergemakliking van dienslewering, is die agentskap besig om dit te ondermyn:
# Die Britse hoëkommissariaat in Pretoria het die EFF-leier, Julius Malema, om verskoning gevra nadat sy Britse visum nie betyds verwerk is vir die naweek se konferensie by die Universiteit van Cambridge nie. Hoëkommissaris Antony Phillipson het standaardprosedures en onlangse Britse openbare vakansiedae aangehaal as redes vir die vertraging, terwyl Malema die land beskuldig van doelbewuste sabotasie. Die kommissie het aangebied om hom en sy span ten volle te vergoed en daarop gewys hy het nie gesag oor visumgoedkeurings nie.
# Motorsport: Bradley Cox van Suid-Afrika het sy eerste fabrieks-renjaerkontrak onderteken om by die Franse span Sherco Rally aan te sluit in die Wêreld-Veldrenkampioenskap. Hy is die seun van Alfie Cox, wat tussen 1998 en 2005 KTM se amptelike renjaer was, drie keer op die Dakar-tydren se podium gestaan en agt skofte gewen het. Die 23-jarige Bradley het verlede jaar die Rally2-Wêreldbeker gewen. Hy sal sy RallyGP-buiging maak in die Safari-tydren van die 18de tot die 24ste van hierdie maand ter voorbereiding vir volgende jaar se Dakar-tydren.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-22-sent teen die dollar, 20-rand-58-sent teen die euro en 24-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 99-duisend-683-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-340-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 61-dollar-59-sent per vat.
# En laastens, die regering vra Suid-Afrikaners in Kinderbeskermingsmaand om saam te staan en elke kind se waardigheid, veiligheid en onskuld te beskerm. Verslae toon dat meer as die helfte van die land se kinders steeds onder die broodlyn leef. Geweld, armoede en wanvoeding, ongelykheid en onvoldoende toegang tot noodsaaklike dienste belemmer ook kinders se oorlewing, groei en ontwikkeling. ‘n Regeringswoordvoerder, Nokululeko Mtshali, sê die beskerming van kinders is ‘n gedeelde verantwoordelikheid:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….