Nuus 09:00
BULLETIN 8 Mei 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party veroordeel die Konstitusionele Hof se uitspraak oor dubbele burgerskap
# Die burgemeester van Kaapstad veroordeel ‘n bomdreigement by ’n moskee
# En Pakistan onderneem om te reageer op Indië se missielaanvalle
# Die MK-party sê hy verwerp onomwonde die Konstitusionele Hof se uitspraak wat dubbele burgerskap verseker. Dié beslissing bevestig die Appèlhof se uitspraak wat ‘n bepaling van die wet op Burgerskap as onwettig verklaar. Die Konstitusionele Hof het wetgewing as ongrondwetlik verklaar wat Suid-Afrikaners van hulle burgerskap ontneem as hulle die burgerskap van ‘n ander land aanvaar. Die MK-party se woordvoerder, Nhlamulo Ndhlela sê die besluit toon hoe Suid-Afrika se regsraamwerk al hoe meer gebruik word om die soewereiniteit van die meerderheid te ondermyn:
# Die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente sê hy het meer as 850-miljoen-rand herwin na onreëlmatige betalings aan openbare universiteite, tegniese-, ambags- en opleidingskolleges gedoen is. Dit is deel van die Spesiale Ondersoekeenheid se ondersoek wat 2,06-miljard-rand geoormerk het vir herwinning. Die voortgesette SOE-ondersoek bekyk ook NSFAS se verkrygingsmislukkings, swak finansiële bestuur en nie-voldoening in die hantering van studente-befondsing. NSFAS sê hy neem ook regsstappe om onreëlmatige kontrakte tersyde te stel.
# Die burgemeester van Kaapstad, Geordin Hill-Lewis, het ‘n bomdreigement veroordeel wat per selfoon na die Al-Azhar-moskee in Distrik Ses gestuur is. Die moskee was uitgesproke oor sy steun aan die Palestynse kwessie. Hill-Lewis sê hy veroordeel die duistere motiewe agter die dreigboodskap. Hy sê Kaapstad is ‘n stad van vredeliewende mense, waar verskille oor geloof en standpunte hard en duidelik gestel word, maar altyd vreedsaam:
# Pakistan se eerste minister, Shehbaz Sharif, het belowe om terug te slaan ná Indië se dodelike missielaanval op sy land. Minstens 31 burgerlikes is dood en 46 gewond toe Indië missielaanvalle op Pakistan en Pakistan-geadministreerde dele van Kasjmir geloods het. Indië sê die aanvalle was ‘n direkte vergelding vir ‘n aanval in hul geadministreerde dele van Kasjmir laat verlede maand, waarin militante 25 Hindoe-toeriste en hul gids dood is. Indië en Pakistan maak albei aanspraak op Kasjmir. Sharif sê hy het die weermag gemagtig om die land se soewereiniteit te verdedig.
# Sokker: Kaartjies vir Saterdag se Nedbankbeker-eindstryd tussen Kaizer Chiefs en Orlando Pirates op die Moses Mabhida-stadion in Durban is amptelik uitverkoop. Stelselfoute het egter veroorsaak dat meer as tien-duisend kaartjies te veel verkoop is. Die uitvoerende hoof van Stadium Management South Africa, Bertie Grobbelaar, sê aanhangers wat nie plek het nie, sal terugbetalings ontvang. Hy sê openbare kykgebiede sal op die strandgebied en in Albertpark opgerig word vir dié wat nie kaartjies het nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-22-sent teen die dollar, 20-rand-64-sent teen die euro en 24-rand-30-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 98-duisend-en-790-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-391-dollar-59-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-47-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….