Nuus 07:00
BULLETIN 8 Mei 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF kritiseer Brittanje oor Malema se visumweiering
# President Ramaphosa sê minister Godongwana se begroting sal anders wees
# En Afrikaans vier 100 jaar as amptelike taal
# Die EFF het die Britse Hoë Kommissaris se versuim om sy leier Julius Malema se visumaansoek vir die Verenigde Koninkryk te verwerk, veroordeel. Malema sou hierdie naweek studente by die 11de Jaarlikse Cambridge Africa Together-konferensie by die Universiteit van Cambridge toespreek. Hy het onthul dat hy die weieringsbrief net vier uur voor sy geskeduleerde vertrek op Woensdag ontvang het. Die EFF se woordvoerder, Thembi Msane, het aan die SABC gesê dit is niks meer is as ‘n gebruik van burokratiese prosesse om politieke meningsverskil te onderdruk nie:
# President Cyril Ramaphosa sê die nuwe begroting sal groei aanspreek wat die enigste manier is om fiskale volhoubaarheid te bereik en maatskaplike vordering in die land te maak. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana lê op 21 Mei vir die derde keer die nasionale begroting in die Parlement ter tafel. Ramaphosa het by gister se bekendstelling van die tweede fase van Operasie Vulindlela benadruk die begroting sal verskil van wat in die verlede voorgelê is:
# Die DA in Johannesburg het burgemeester Dada Morero se stadsrede gekritiseer, en wys na reuse-finansiële wanbestuur. Die party se provinsiale leier, Solly Msimanga, beweer die stad het meer as 20-miljard-rand aan ongoedgekeurde en nuttelose uitgawes bestee. Msimanga sê dit weerspieël ’n mislukking om Johannesburg se ingewikkelde uitdagings aan te pak te midde van beperkte hulpbronne. Hy voer aan dat die burgemeester se toespraak ontbreek het aan werklike oplossings om bestuur en dienslewering te herstel:
# Navorsers sê die wêreld se rykste 10-persent mense is sedert 1990 verantwoordelik vir twee derdes van aardverwarming. Die eerste studie wat die uitwerking van gekonsentreerde privaat rykdom op uiterste klimaatgebeurtenisse bepaal, het bevind dat die manier waarop die rykes verbruik en belê, die risiko van dodelike hittegolwe en droogtes aansienlik verhoog het. ’n Wetenskaplike van ETH Zürich, hoofskrywer Sarah Schoengart, sê hulle het die koolstofvoetspore van die rykstes regstreeks aan werklike klimaatgevolge gekoppel.
# Krieket: Indië se kaptein, Rohit Sharma, het sy onmiddellike uittrede uit toetskrieket aangekondig en hy is nie beskikbaar vir die reeks teen Engeland in Junie nie. Die 38-jarige tree uit met vier-duisend-301 lopies in 67 toetswedstryde insluitend 12 honderdtalle en 18 vyftigtalle agter sy naam. Sy hoogste telling was 212 teen Suid-Afrika in Ranchi in 2019. Sharma, wat uit die T20 internasionale formaat tree na hy Indië verlede jaar na hulle tweede Wêreldbekertitel gelei het, sê hy sal steeds in een-dag-internasionale wedstryde speel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-24-sent teen die dollar, 20-rand-63-sent teen die euro en 24-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 97-duisend-845-dollar-90-sent. Die prys van goud is drie-duisend-387-dollar-2-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-37-sent per vat.
# En ten slotte: Vandag vier ons Afrikaanse se honderd jaar as amptelike taal. Oor die dekades het Afrikaans ontwikkel in ’n taal wat die diversiteit van Suid-Afrika weerspieël. Dit is ’n taal wat mense verbind, verhale dra, en gemeenskappe vorm. Thomas Walters van die DA sê dit is ’n geleentheid om hulde te bring aan al die digters, skrywers, opvoeders, kunstenaars en gewone Afrikaanssprekendes – die verskeie Afrikaanse dialekte, wat Afrikaans vorm en uitbou:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….