Nuus 18:00
BULLETIN 7 Mei 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Malema se visumaansoek vir Brittanje word geweier voor die Cambridge-konferensie
# Gauteng se Gesondheidsdepartement mag appelleer teen die uitspraak oor kanker-behandeling
# En rugby: Nog ‘n Wallabie bly in Australië tot na 2027 se Wêreldbekertoernooi
# Die leier van die EFF, Julius Malema, is ’n visum geweier vir die Verenigde Koninkryk wat hom verhoed om die naweek die Cambridge-konferensie by te woon. Malema het die besluit afgemaak as ’n poging om politieke meningsverskille te onderdruk. Hy het bekendgemaak dat hy die weieringsbrief net vier uur voor sy beplande vertrek ontvang het, ondanks vorige versekerings dat die saak vroeër vanmiddag opgelos sou word. Hy het die besluit van die Britse owerhede in ’n plasing op sosiale media beskryf as onaanvaarbaar en ruggraatloos.
# Die Suid-Afrikaanse Reserwebank en die Bank vir Internasionale Betalings het die 2025 G20 TechSprint-kompetisie in Johannesburg van stapel gestuur. Dit nooi wêreldwye innoveerders uit om digitale oplossings te ontwikkel wat vertroue en integriteit in die finansiële stelsel kan versterk, met die fokus op digitale identiteit en die deel van oorgrens-kredietdata. Die president van die Reserwebank, Lesetja Kganyago, het die belangrikheid van veilige digitale identiteite en naatlose data-uitruiling beklemtoon om bedrog te verminder en finansiële insluiting te verbeter. Wenners sal in November aangekondig word, met ’n eerste prys van 548-duisend-rand.
# Die Gautengse Departement van Gesondheid het verlof tot appèl verkry teen ’n uitspraak van die Hooggeregshof in Johannesburg. Dit volg nadat die hof die departement se versuim om bestralingsdienste aan byna drie-duisend-kankerpasiënte te lewer as onregmatig en ongrondwetlik verklaar het. Die uitspraak in Maart het die departement beveel om die waglys by te werk en binne 45 dae ’n behandelingsplan in te stel. Woordvoerder Motalatale Modiba sê die appèl sal geleentheid bied vir ’n omvattende regsbeskouing van die kwessies wat in die uitspraak gemeld is:
Die DA in Gauteng eis intussen die verwydering van die uitvoerende hoof van die Charlotte Maxeke Johannesburgse Hospitaal, Gladys Bogoshi. Die hospitaal is weereens in ’n krisis gedompel, met pasiënte wat sonder kos en warm water moet klaarkom. Volgens Jack Bloom van die DA sukkel dokters en verpleegkundiges om honger pasiënte te behandel, met slegs brood en pap wat vir etes bedien word in plaas van gebalanseerde etes. Hy sê daar is nie eens tee en suiker beskikbaar nie:
# Rugby: Die skrumskakel Jake Gordon het die nuutste Wallabie geword wat ondanks winsgewende oorsese aanbiedings besluit het om in sy geboorteland te bly tot ná die Wêreldbekertoernooi wat in 2027 in Australië plaasvind. Die 31-jarige sê hy is opgewonde oor die vooruitsig om vanjaar teen die Britse en Ierse Leeus te speel, en hoop om sy Wêreldbeker-buiging oor twee jaar te maak. Nege ander toetsspelers het onlangs hul kontrakte met Rugby Australië verleng. Hulle sluit Fraser McReight, Nick Frost, Harry Wilson, Jeremy Williams en Lachlan Lonergan in.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-23-sent teen die dollar, 20-rand-72-sent teen die euro en 24-rand-37-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 97-duisend-368-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-383-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 61-dollar-85-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….