Nuus 15:00
BULLETIN 7 Mei 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Masemola versoek publiek se hulp met soektog na vermiste joernalis en sy lewensmaat
# Asiatiese markte verstewig danksy tarief-gesprekke tussen Amerika en China
# En krieket: Virat Kohli sê Mark Boucher het die grootste invloed op sy loopbaan gehad
# Die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, het openbare hulp gevra met die soektog na die vermiste joernalis Sibusiso Ndlovu en sy lewensmaat, Zodwa Mdhluli. Hulle het op 18 Februarie verdwyn nadat hulle hul huis in Mpumalanga verlaat het. Die polisie het die saak herklassifiseer as ontvoering en kaping en die verdagtes wat in hegtenis geneem is, sal na verwagting vandag in die Landdroshof in KwaMhlanga verskyn. Masemola sê samewerking van die gemeenskap is van kardinale belang in die saak:
# Die voorsitter van die Parlement se portefeuljekomitee op die Polisie, Ian Cameron, dring aan op wetgewende hervormings om burgerlikes teen mishandeling deur BBP-lyfwagte te beskerm. Dit volg nadat die polisie agt van adjunkpresident Paul Mashatile se lyfwagte onskuldig bevind het ná die aanranding van burgerlikes op die N1-hoofweg in Gauteng in 2023. Hulle word steeds strafregtelik aangekla en sal weer op 10 Junie in die Randburgse Landdroshof verskyn. Cameron het aan Newzroom Afrika gesê die besluit is ’n skending van openbare vertroue:
# Asiatiese aandele het vandag gestyg nadat China en Amerika gesê het hulle sal die naweek handelsgesprekke voer, wat optimisme aangewakker het dat hierdie supermoondhede hoë tariewe kan terugtrek. Beijing se stappe ter versagting van belangrike monetêre beleidsinstrumente om die wêreld se nommer twee-ekonomie te laat herleef, het hoop onder beleggers versterk nadat hul dronkgeslaan is deur Donald Trump se plofbare eerste paar maande aan bewind. Washington het met talle lande gepraat om Trump se omvattende heffings te vermy, met Japan en Suid-Korea wat aan die voorpunt was.
# Krieket: Een van Indië se beste spelers, Virat Kohli, sê die voormalige Suid-Afrikaanse paaltjiewagter Mark Boucher het die grootste invloed op sy loopbaan gehad. Kohli was slegs 19 toe hy in 2008 vir Royal Challengers Bengaluru in die Indiese Premierliga begin speel het. Hy sê Boucher was sy enigste spanmaat wat sy swakpunte uitgewys en hom gehelp het om dit reg te stel. Boucher het ook gesê dit sal ‘n onreg wees wanneer hy oor vier jaar na Indië terugkeer as kommentator en Kohli speel nie vir sy land nie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-26-sent teen die dollar, 20-rand-77-sent teen die euro en 24-rand-38-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-991-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-386-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 62-dollar-38-sent per vat.
# En ten slotte: Die uitsaaier, skrywer en natuurkundige David Attenborough glo sy nuwe rolprent, Ocean, kan ‘n beslissende rol speel in die redding van bioverskeidenheid en die beskerming van die planeet teen klimaatsverandering. Die rolprent beklemtoon hoe die oseaan die wêreld gevorm het en waarom die toekoms van die planeet verweef is met die gesondheid van oseane. Lande het hulle daartoe verbind om ‘n derde van die wêreld se oseane teen 2030 te beskerm. Attenborough sê die toestand van die oseaan het hom amper hoop laat verloor vir die toekoms van lewe op die planeet.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….