Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 4 Januarie 12:30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin vandag met krieket: Geskiedenis is gemaak op die eerste dag van die tweede toets tussen Suid-Afrika en Indië. Albei spanne het hul eerste beurt voltooi met ‘n rekord van 23 paaltjies wat gekantel het. Daar sal ongetwyfeld vrae gevra word oor die gehalte van die kolfblad wat deur hoof-terreinopsigter, Braam Mong, voorberei is. Die onsekerhede van kolfblad-voorbereiding lei dikwels tot verrassings. Die aard van die Nuweland-oppervlak en die feit dat albei spanne op die eerste dag gekolf het, sal ongetwyfeld die wenkbroue laat lig, veral by een van Suid-Afrika se voorste toets-krieketvelde.
# Rugby is volgende aan die beurt: Die Leeus is die naweek weer in aksie in die Verenigde Rugby-kampioenskap met ‘n plaaslike derby in Durban teen die Haaie. Die span van Johannesburg is in die 12de posisie op 19 punte, maar het twee wedstryde minder gespeel nadat hulle feestyd-derbywedstryde uitgestel is. Die Leeus het laas in 2017 in Durban gewen, maar die hulpafrigter, Ricardo Laubscher, is vol vertroue hulle kan die beskikbare punte insamel as hulle die wedstrydplan doeltreffend uitvoer:
# Nou tyd vir gholf: Rory McIlroy sê hy sal bereid wees om in ‘n toernooi te speel wat deur LIV Golf gesteun word indien dit meer soos die Indiese Premierliga word. McIlory was van nuuts af ‘n stoere teenstander van LIV wat hoëprofielspelers gewerf het en ‘n breuk in gholf veroorsaak het. Gesprekke oor samesmelting tussen die PGA-reeks en Saoedi-Arabië se Openbare Beleggingsfonds – wat LIV befonds – sal in 2024 voortgesit word om ‘n einde te bring aan die tweespalt. McIlroy, wat vier majors ingepalm het, het vroeër gesê hy het LIV nou as deel van die sport aanvaar.
# Vervolgens, tennis: Die tienmalige Australiese Ope-kampioen, Novak Djokovic, is in ‘n stryd teen tyd gewikkel om betyds fiks te wees om sy titel te begin verdedig. Hy het sy gewrig seergemaak in die United Cup-spankampioenskap in Perth, waar hy gister verslaan is deur die plaaslike speler, Alex de Minaur. Dit was die wêreld se nommer een-speler se eerste nederlaag sedert 2018 in Australië, waar hy sy vorige 43 wedstryde gewen het. Vanjaar se eerste Grand Slam-toernooi begin volgende Sondag in Melbourne, en word die eerste keer oor 15 dae gespeel.
# En, ons sluit af met veerpyltjies: Die tiener en veerpyltjiesensasie, Luke Littler, het nie sy sprokies-oorwinning by die Wêreld-veerpyltjiekampioenskap behaal nie nadat hy in die eindronde teen Luke Humphries verloor het. Die 16-jarige Littler het ʼn paar skitterende gooie gehad soos dié wat hom in die eindronde gebring het, maar Humphries, die wêreld se nommer een, het teruggeveg om met die titel en prysgeld van meer as 11,8-miljoen-rand weg te stap. Littler, wat ook as The Nuke bekend is, sal ná sy ongelooflike veldtog steeds 4,7-miljoen-rand in sy sak steek. Hy het Woensdagaand probeer om die jongste wêreld-veerpyltjiekampioen in die geskiedenis te word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….