Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 7 Mei 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Die afrigter van die Junior Springbokke, Kevin Foote, is teleurgesteld met sy span se vertoning in die tweede helfte van hulle wedstryd teen Australië in die tweede ronde van die Onder-20-Rugbykampioenskap in Gqeberha. Australië het na rustyd ‘n agterstand van 17 punte omgekeer om Suid-Afrika 29-24 te klop. Foote sê hulle dissipline en spel by die afbreekpunte was ‘n groot probleem en hulle sal dit moet regstel voor Sondag se kragmeting met Nieu Seeland:
Nog rugbynuus: Die kanse is skraal dat Ierland se kaptein, Caelan Doris, saam met die Britse en Ierse Leeus na Australië sal toer. Die agsteman, wat beskou is as ‘n moontlike toer-kaptein, is beseer en moet ‘n operasie ondergaan, wat hom maande op die kantlyn kan hou. Die Leeus se hoofafrigter, Andy Farrell, gaan na verwagting môre sy toergroep aankondig. Hulle speel drie toetse teen die Wallabies en nog ses wedstryde tydens die toer van 28 Junie tot 2 Augustus.
# Krieket: Een van Indië se beste spelers, Virat Kohli, sê die voormalige Suid-Afrikaanse paaltjiewagter Mark Boucher het die grootste invloed op sy loopbaan gehad. Kohli was slegs 19 toe hy in 2008 vir Royal Challengers Bengaluru in die Indiese Premierliga begin speel het. Hy sê Boucher was sy enigste spanmaat wat sy swakpunte uitgewys en hom gehelp het om dit reg te stel. Boucher het ook gesê dit sal ‘n onreg wees wanneer hy oor vier jaar na Indië terugkeer as kommentator en Kohli speel nie vir sy land nie.
# Sokker: Fifa het aangekondig dat Los Angeles FC en Club América in ‘n eenmalige uitspeelwedstryd sake gaan uitspook om te bepaal wie Club León sal vervang in die Klub-Wêreldbekertoernooi in Amerika. Die klub het sy appèlsaak in die Arbitrasiehof vir Sport verloor. Fifa het in Maart beslis dat Club León en nog ‘n Mexikaanse klub, Pachuca, nie aan die reëls vir multi-klub-eienaarskap voldoen nie. Die wenner van die uitspeelwedstryd sal in Groep D meeding met Chelsea, Flemengo en Esperance Sportive de Tunis.
# En motorsport: Die Formule Een-span Alpine het bevestig dat die reserwebestuurder Franco Colapinto vir Jack Doohan sal vervang vir die volgende vyf wedrenne, insluitende volgende naweek se Emilia Romagna Grand Prix op Imola in Italië. Doohan het gesukkel om sy spanmaat Pierre Gasly se tye te ewenaar en het ná ses rondes van sy eerste F1-seisoen nog nie ‘n enkele kampioenskapspunt behaal nie. Die 22-jarige Australiër sal by Alpine aanbly as ‘n reserwebestuurder. Dit volg op gister se aankondiging dat die spanhoof, Oliver Oakes, met onmiddellike ingang bedank het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….