Nuus 12:00
BULLETIN 7 Mei 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die VF Plus sê die ANC se obsessie om gelyke uitkomste te bereik vererger armoede
# Die MK-party vra leefstyloudits van regters en verklaring van hul bates
# En rugby: Die Junior Bokke se afrigter is teleurgesteld met hulle vertoning teen Australië
# # Die Vryheidsfront Plus sê hy erken die potensiaal van die benutting van nywerheidsontwikkeling en handel om behoorlike werkgeleenthede en maatskaplike geregtigheid te bevorder, maar die ANC se huidige benadering en beleid ondermyn hierdie ideaal. Heloïse Denner van die VF-Plus sê die ANC se obsessie om gelyke uitkomste te bereik, ten koste van gelyke geleenthede, vererger armoede en werkloosheid. Sy sê wetgewing soos die Wetsontwerp op Gelyke Indiensneming skep hindernisse vir werkskepping, terwyl beleggingsgeleenthede verlore gaan as gevolg van swak bestuur:
# Die MK-party vra dat leefstyloudits en die verklaring van bates onmiddellik ingestel word vir alle lede van die regbank. Die party sê Suid-Afrika kan nie bekostig om ‘n regbank te hê wat beskerm word teen dieselfde deursigtigheid wat verwag word van ander staatsinstellings nie. Die MK-party sê burgers verdien om te weet wie befonds sekere regters se weelderige leefstyl, hoe versamel sommige onverklaarbare rykdom op openbare salarisse en of regterlike beslissings ooit beïnvloed word deur verhoudings of finansiële belange.
# Die Departement van Binnelandse Sake se stap om sy vennootskap met die Staatsinligtingstegnologie-agentskap te verbreek het tot ‘n openbare geskil aanleiding gegee. Die departement noem gereelde stelselonderbrekings, vertragings met verkryging en hoë koste as redes vir sy soeke na alternatiewe IT-diensverskaffers. SITA sê egter hy het sy verbintenisse nagekom en in infrastruktuuropgraderings belê. Volgens News24 het die dooiepunt kommer laat ontstaan oor die moontlikheid van ontwrigting in die lewering van noodsaaklike regeringsdienste en die toekoms van openbare IT-verkryging in die land.
# Kardinale het in die Vatikaanstad bymekaargekom en hulself afgesonder ter voorbereiding vir die verkiesing van ’n nuwe pous ná Franciskus se dood op 21 April. Die kardinaalsvergadering wat vandag in die Sistynse Kapel begin, behels 133 kardinale onder die ouderdom van 80. Kardinaal William Seng Chye Goh van Singapoer sê hulle sal afgesonder bly en streng geheimhoudingsprotokol handhaaf totdat ’n opvolger met ’n twee-derde meerderheid verkies is:
# Rugby: Die afrigter van die Junior Springbokke, Kevin Foote, is teleurgesteld met sy span se vertoning in die tweede helfte van hulle wedstryd teen Australië in die tweede ronde van die Onder-20-Rugbykampioenskap in Gqeberha. Australië het na rustyd ‘n agterstand van 17 punte omgekeer om Suid-Afrika 29-24 te klop. Foote sê hulle dissipline en spel by die afbreekpunte was ‘n groot probleem en hulle sal dit moet regstel voor Sondag se kragmeting met Nieu Seeland:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-28-sent teen die dollar, 20-rand-78-sent teen die euro en 24-rand-41-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-939-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-386-dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 62-dollar-87-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….