Nuus 09:00
BULLETIN 7 Mei 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die VF Plus verwelkom die hofuitspraak oor die ondertekening van die Nasionale Gesondheidsversekeringswet
# KwaZulu-Natal sê padprojekte van 4,6-miljard-rand het in duie gestort
# En Indië teiken Pakistan met dodelike missielaanvalle
# Die Vryheidsfront Plus het die Hooggeregshof in Pretoria se uitspraak verwelkom dat die ondertekening van die Nasionale Gesondheidsversekeringswet hersien kan word. Die uitspraak volg op regstappe deur die Raad van Gesondheidsfinansierders en die Suid-Afrikaanse Privaat Praktisynsforum wat die logika van Ramaphosa se ondertekening van die wetsontwerp bevraagteken het ten spyte van groot teenkanting en grondwetlike kwessies wat geopper is. VF Plus se Philip van Staden sê NGV is ‘n onrealistiese droom:
# Die Transnational Alliance to Combat Illicit Trade, Tracit, sê sluikhandel hou ‘n ernstige bedreiging in vir Suid-Afrika se ekonomiese bestendigheid, regering en internasionale posisie. Luidens die jongste verslag verloor die land jaarliks nagenoeg 30-miljard-rand aan belasting weens die smokkel van sigarette en alkohol. Suid-Afrika is 60ste op ‘n lys van 158 lande waar die opname gedoen is. Tracit sê Suid-Afrika is steeds op die Finansiële Aksie-taakmag se gryslys, wat die volgehoue tekortkominge beklemtoon om ‘n raamwerk teen geldwassery en die finansiering van terrorisme te skep.
# Die Kwa-Zulu-Natalse LUR vir Menslike Nedersettings, Siboniuso Duma, het sy kommer uitgespreek oor 30 kontrakteurs aan wie pad tenders toegeken is en wat nie projekte betyds voltooi het nie. Die tenders beloop 4,6-miljard-rand. Twee van die kontrakteurs het projekte heeltemal laat vaar. Duma sê sy departement beoog om met die Boubedryf se Ontwikkelingsraad te vergader en voeg by sommige maatskappye het gelieg oor die omvang van die kontrakte wat hulle kan hanteer:
# Die Indiese regering sê hy het nege terroristevestings in Pakistan en die aangrensende Kasjmir-provinsie met missiele aangeval. Volgens Pakistan is agt mense dood, insluitend kinders, wat die premier, Shehbaz Sharif, as oorlog beskryf. Indië en Pakistan beheer dele van die betwiste Kasjmir-grensgebied. Die jongste verskerpte optrede volg nadat Indië Pakistan beskuldig het van die aanval op Hindoe-toeriste verlede maand in Kasjmir waarin 26 mense dood is.
# Sokker: Inter Milan is deur na die Kampioeneliga-eindstryd nadat hulle Barcelona met 4-3 in die halfeindstryd se tweede ontmoeting by San Siro geklop het. Met net twee minute se bykomende tyd oor, was Inter Milan se agterstand 3-2, maar Francesco Acerbi het met ‘n dwarsskop geslaag om die telling gelykop te maak. Plaasvervanger Davide Frattesi het die wendoel in bykomende tyd aangeteken om sy span vir die tweede keer in drie jaar na die eindstryd te laat deurdring. Inter sal óf teen Paris Saint-Germain óf Arsenal te staan kom.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-22-sent teen die dollar, 20-rand-68-sent teen die euro en 24-rand-33-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-en-623-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-386-dollar-27-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-49-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….