Nuus 18:00
BULLETIN 6 Mei 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Konstitusionele Hof beslis teen die verlies van Suid-Afrikaanse burgerskap met verkryging van buitelandse burgerskap
# Rusland en Oekraïne laat elkeen 205 soldate vry
# En ‘n vermeende rower skiet sy eie been af aan die Gautengse Oos-rand
# Die DA verwelkom die mylpaaluitspraak van die Konstitusionele Hof wat die regte van Suid-Afrikaners met dubbele burgerskap beskerm. Die hof het ’n artikel van die Wet op Burgerskap ongrondwetlik verklaar. Hierdie artikel het voorheen burgers van hul status gestroop indien hulle ’n tweede nasionaliteit verkry sonder vooraf-toestemming. Adrian Roos van die DA sê die uitspraak herstel burgerskap aan almal wat geraak is en is ’n oorwinning vir byna twee-miljoen Suid-Afrikaners wat oorsee woon:
# Die Departement van Indiensneming en Arbeid sê die nuwe sektorale teikens kragtens die Wet op Gelyke Indiensneming is nie raskwotas nie, maar ‘n manier om billike verteenwoordiging in die werkplek te verseker. Die departement het in die Hooggeregshof in Pretoria aangevoer die teikens is in oorleg met die betrokke sektore ontwikkel en is wel buigsaam. Die departement se regsverteenwoordiger, Fana Nalane, sê die veranderings word benodig om voortdurende ongelykheid in werksgeleenthede reg te stel:
# Rusland en Oekraïne het elk 205 soldate vrygelaat in die vyfde uitruiling van krygsgevangenes sedert die begin van die jaar. Moskou sê die Verenigde Arabiese Emirate het die uitruiling bemiddel en voeg by sy soldate is tans in Belarus vir mediese en sielkundige ondersoeke. Die uitruiling volg terwyl gesprekke oor ‘n wapenstilstand wat Amerika bemiddel het, blykbaar ‘n dooiepunt bereik het. Moskou berei intussen voor vir Vrydag se reuse-parade om 80 jaar sedert Nazi-Duitsland se nederlaag in die Tweede Wêreldoorlog te herdenk.
# Sokker: Real Madrid skarrel om Liverpool se verdediger, Trent Alexander-Arnold, te kontrakteer voor die begin van die Klub-Wêreldbekertoernooi in Amerika. Die 26-jarige Engelse internasionale speler het gister aangekondig hy beplan om die Engelse klub einde Junie te verlaat. Hy het die Premierliga-kampioen sedert 2016 op senior vlak verteenwoordig nadat hy sedert die ouderdom van vyf vir die klub gespeel het. Die Spaanse reus het Liverpool glo genader om Alexander-Arnold vroeër vry te stel aangesien die toernooi reeds die 15de van volgende maand begin.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-22-sent teen die dollar, 20-rand-69-sent teen die euro en 24-rand-40-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-317-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-385-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 62-dollar-40-sent per vat.
# En laastens, ‘n vermeende transitorower in Gauteng het sy been verloor toe hy vroeër vandag probeer het om ‘n geldwa op te blaas tydens ‘n rooftog in Thokoza aan die Oos-rand. Die toestel het te vroeg ontplof en die man is ernstig beseer. Owerhede ondersoek die voorval en is op die spoor van verdagtes wat vermoedelik betrokke was by die mislukte rooftog. Geen kontant is blykbaar gesteel nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….