Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 6 Mei 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Die Junior Springbokke se afrigter, Kevin Foote, het verskeie veranderings aan sy opdrafspan gemaak vir vandag se tweede Rugbykampioenskaps-onder 20-wedstryd teen Australië op die Nelson Mandelabaai-stadion in Gqeberha. Suid-Afrika het Saterdag in die openingsronde teen Argentinië gewen, terwyl Australië met ‘n laat drie ‘n gelykop-telling teen Nieu-Seeland afgedwing het. Foote het JC Mars, Wandile Mlaba, Batho Hlekani en Herman Lubbe in die opdrafspan ingesluit. Al vier het verlede jaar ook vir die Bababokke gespeel. Die nuwe skakelpaar is Ceano Everson op skrumskakel en Vusi Moyo op losskakel.
# Krieket: Sunrisers Hyderabad se hoop om die uitspeelronde van die Indiese Premierliga te haal, is verydel toe reën hulle wedstryd teen Delhi Capitals in die wiele gery het. Capitals het 133 vir sewe in hulle 20 boulbeurte aangeteken, waarna die spelers nie na die veld kon terugkeer nie. Die twee spanne kry elkeen ‘n punt. Capitals is steeds in die vyfde plek, maar het die gaping met die vierde-geplaaste Gujarat Titans tot slegs een punt verklein.
# Tennis: Die groot mededingers Jannik Sinner en Carlos Alcaraz kan mekaar eers ontmoet in die eindstryd van die Italiaanse Ope wat môre in die hoofstad, Rome, begin. Die plaaslike held, Sinner, het sy posisie boaan die wêreldranglys behou toe hy Sondag teruggekeer het ná ’n skorsing van drie-maande. Die Spanjaard is derde gekeur na die Duitser Alexander Zverev. Daar is egter steeds onsekerheid oor Alcaraz se fiksheid ná sy onttrekking aan die Madridse Meesterstoernooi. Albei het ‘n loslootjie in die eerste ronde en sal eers in die tweede ronde speel.
# Motorsport: Alpine se Formule Een-span oorweeg skynbaar om Jack Doohan uit die komende Emilia-Romagna Grand Prix op Imola in Italië te laat. Die 22-jarige groentjie het nog nie vanjaar enige punte behaal nie. Die Australiër is gedwing om aan die Miami Grand Prix te onttrek ná ‘n botsing met Liam Lawson van Racing Bulls. Pierre Gasly het ál Alpine se sewe punte tot dusver vanjaar aangeteken. Die reserwebestuurder, Franco Colapinto, sal Doohan volgens berigte vervang. Hy het verlede jaar in nege wedrenne vir Williams gejaag.
En ten slotte: Twee renjaers is dood en een het ernstige beserings opgedoen in ‘n ongeluk tydens ‘n Britse Supersportkampioenskapswedren op Oulton Park in Cheshire, Engeland. Owen Jenner en Shane Richardson het noodlottige beserings opgedoen in ‘n ongeluk waarby 11 motorfietse in die eerste draai van die eerste ronde betrokke was. Tom Tunstall is na die hospitaal oorgeplaas met ernstige rug- en buikbeserings, terwyl vyf ander ryers op die baan behandel is vir geringe beserings. Die Motorfiets-baanrenbeheerraad en MotorSport Vision Racing stel ondersoek in na die omstandighede van die voorval.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….