Nuus 13:00
BULLETIN 5 Mei 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Malema sê Trump se vorm van diplomasie is manipulering en afpersing
# Teenkorrupsie-leiers kom in Kaapstad byeen vir die 15de Statebond-streekskonferensie
# En die Blitsbokke se afrigter is trots op sy span na hulle sege in Los Angeles
# Die leier van die EFF, Julius Malema, sê sedert Amerika se president, Donald Trump, in Januarie in die amp getree het, is hy betrokke by sogenaamde manipulering en afpersing as sy vorm van diplomasie. Malema het die tweede vergadering van die Sentrale Bevelspan in Bela-Bela in Limpopo toegespreek. Hy sê Trump het met die idee van ‘n Goue Era vir Amerika die wêreld met ‘n wapen aan diplomasie onderwerp. Hy sê Trump gebruik die dollar en Amerika se militêre bedryf as wapen.
# Die 15de Statebond-streekkonferensie van hoofde van teenkorrupsie-agentskappe in Afrika word in Kaapstad gehou. Die week lange geleentheid word deur Suid-Afrika se Spesiale Ondersoekeenheid aangebied met die tema Versterking van ‘n inklusiewe deelname van staats- en ander rolspelers om korrupsie te verhoed en te bekamp. Die doel van die konferensie is om teenkorrupsie-agentskappe te versterk, vernuwende strategieë te bevorder en die Volhoubare Ontwikkelingsdoelwit-16 deur gedeelde beste praktyke en internasionale samewerking te bevorder.
# Die hoof van die Weermag, Rudzani Maphwanya, sê die volledige onttrekking van Suid-Afrikaanse soldate aan die Demokratiese Republiek die Kongo sal teen die einde van die maand gefinaliseer wees. Hy sê veiligheidsmaatreëls is ingestel om ‘n gladde, stelselmatige proses te verseker na ‘n ooreenkoms met die M23-rebelle en die regering van die DRK. Maphwanya waarsku teen waninligting wat soldate in gevaar kan stel tydens die sensitiewe onttrekkingsfase:
# Rugby: Die Springbok-sewes se afrigter, Phillip Snyman, sê om die Sewes-wêreldkampioenskap in Los Angeles te kon wen, bewys die span is terug na waar hy moet wees. Die Blitsbokke het eers groep-oorwinnings behaal oor Frankryk, Brittanje en Argentinië, Nieu-Seeland daarna in die halfeind verslaan en Spanje toe 19-5 oorrompel in die eindstryd. Snyman sê die span het dwarsdeur die toernooi ‘n verstommende vertoning gelewer:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-31-sent teen die dollar, 20-rand-76-sent teen die euro en 24-rand-34-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-611-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-301-dollar-35-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 60-dollar-61-sent per vat.
# En laastens, Suid-Afrikaners word opnuut aangemoedig om Reach for a Dream se Pantoffeldag op 30 Mei te ondersteun. Deur bloot ‘n plakker van 20-rand te koop, pantoffels te dra en die saak te ondersteun, kan mense help om vreugde te bring aan kinders met lewensbedreigende siektes. Reach For A Dream se bestuurshoof, Julia Sotirianakos, sê elke plakker wat verkoop word, help om drome te verwesenlik, hetsy deur die kinders te help om hul held te ontmoet, in ‘n vliegtuig te vlieg of iets te ontvang waarvan hulle gedroom het:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….