Nuus 07:00
BULLETIN 5 Mei 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Presidensie sê die ondersoek na ‘n vermiste joernalis vorder goed
# Die Brasiliaanse polisie fnuik ‘n bomaanval by ‘n Lady Gaga-konsert
# En rugby: Die Blitsbokke wen die Wêreldkampioenskap in Los Angeles
# Die adjunkminister in die Presidensie, Kenny Morolong, sê die polisie-ondersoek na die omstandighede rondom die verdwyning van die joernalis Aserie Ndlovu vorder goed. Ndlovu, stigter van Capital Live FM, is op 18 Februarie saam met sy lewensmaat Zodwa Mdhluli as vermis aangemeld. Die adjunkminister het Ndlovu se familie gister in KwaMhlanga, Mpumalanga, besoek. Morolong sê die regering is bekommerd oor die veiligheid van joernaliste:
# Die UDM het kommer uitgespreek oor die toenemende geweld teen polisielede ná die noodlottige skietery van ‘n 31-jarige beampte in Langa, Kaapstad, terwyl sy van diens af was. Die beampte se liggaam is met skietwonde in haar voertuig naby ‘n laerskool gevind. Zandile Phiri van die UDM sê 17 beamptes is tussen Julie en September 2024 dood, waarvan ‘n aantal nie tydens hul dood aan diens was nie. Hy vra vir beter beskermingsmaatreëls en ondersteuning vir polisiepersoneel.
# Die mede-sameroeper van die ANC in Gauteng, Panyaza Lesufi, sê hulle is verbind tot samewerking met alliansie-vennote om ‘n gesamentlike aksieprogram te skep in die aanloop tot volgende jaar se plaaslike regeringsverkiesing. Hy het Sondag die party se tweedaagse provinsiale taakspan-lekgotla in Johannesburg afgesluit. Die ANC in Gauteng se steun het in die 2024 algemene verkiesing tot 36-persent gedaal en sy strukture in die provinsie is gevolglik ontbind. Lesufi sê die party is vasbeslote om na inwoners se basiese behoeftes om te sien:
# Die Regterlike Gedragstribunaal hervat vandag sy verhoor oor bewerings van seksuele teistering teen die Oos-Kaapse regterpresident, Selby Mbenenge. Die saak van wangedrag wat deur die hofsekretaris Andiswa Mengo gelê is, kan lei tot Mbenenge se afdanking. Die Tribunaal het in Januarie onder voorsitterskap van die afgetrede regterpresident Bernard Ngoepe met openbare sittings begin, wat tot 16 Mei sal duur. Kenners beskryf die saak as deurslaggewend vir regterlike verantwoordbaarheid in Suid-Afrika se regstelsel.
# Die Brasiliaanse polisie sê hulle het daarin geslaag om ‘n beplande bomaanval by Lady Gaga se gratis vertoning op Rio de Janeiro se Copacabana-strand te fnuik. Meer as twee-miljoen mense het die konsert bygewoon. Die polisie in Rio de Janeiro sê die komplot is gesmee deur ‘n groep wat haatspraak en die radikalisering van tieners bevorder, insluitend selfbesering en gewelddadige inhoud as ‘n vorm van sosiale aanvaarding. Hy sê verdagtes het deelnemers gewerf om aanvalle met saamgestelde ploftoestelle uit te voer. Die vermeende meesterbrein is in hegtenis geneem.
# Rugby: Die Springbok-sewes het Spanje met 19-5 in die eindstryd van die Sewes-wêreldkampioenskap in Los Angeles geklop en daarmee ‘n foutlose naweek in Kalifornië afgesluit. Selvyn Davids, Mfundo Ndhlovu en Ricardo Duarttee het drieë in die eindstryd gedruk terwyl die Blitsbokke slegs een afgestaan het met baie sterk verdediging in hulle vyfde oorwinning van die naweek. Nieu-Seeland het die bronsmedalje verower na hulle Argentinië met 38-17 getroef het. In die vroue-afdeling het Nieu-Seeland vir Australië met 31-7 afgeransel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-37-sent teen die dollar, 20-rand-82-sent teen die euro en 24-rand-41-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-491-dollar-70-sent. Die prys van goud is drie-duisend-254-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 59-dollar-39-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….