Goeie Nuus
BULLETIN 2 Mei 14:00 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Universiteit van Pretoria vier hierdie maand die graduering van 12-duisend-950 studente, en ongeveer 48,4-persent het hul studies afgehandel met finansiële steun van die instelling. Die Giving Day-veldtog wat in 2022 van stapel gestuur is om 100-miljoen-rand vir hulp aan die sogenaamde vermiste middelklas in te samel, is een van die inisiatiewe wat hiertoe bygedra het. UP se visekanselier en hoof, Francis Petersen, sê dit bevestig die hervormende rol wat finansiële hulp in ‘n student se lewe kan speel.
# Die topkunstenaar van Afrika-fusion en wêreldklanke, Romeo Mputu, het in Suid-Afrika aangekom. Mputu is in die Demokratiese Republiek die Kongo gebore, maar het in Suid-Afrika grootgeword en woon nou in Amerika. Sy besoek val saam met die langverwagte uitreiking van sy jongste enkelsnit, Love on Distance. Die platemaatskappy Much Better BMK INC se woordvoerder, Patience Edward, sê Mputu se besoek sal eksklusiewe privaat optredes insluit, wat ‘n intieme ervaring sal wees met een van Afrika se mees dinamiese musikale uitvoerprodukte:
# Die Stad Kaapstad se Biblioteek- en Inligtingsdienste bied weer ‘n skryfkompetisie aan vir kinders tussen 9- en 13-jaar oud. In 2024 het die kompetisie, wat op omgewingsbewustheid gefokus het, van 100 jongmense inskrywings ontvang. Vanjaar se tema fokus op ʼn geheimsinnig boks. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid, Francine Higham, sê die skrywers moet hulle verbeel hulle is besig met ontdekkings in hul plaaslike of skoolbiblioteek wanneer hulle op ʼn versteekte, geheimsinnige boks afkom:
# Die Oscar-wenner George Clooney het sy heel eerste Tony-benoeming ontvang vir sy Broadway-debuutoptrede in Good Night, and Good Luck. Die toekennings vereer uitnemendheid in Broadway-teater oor die afgelope jaar. Audra McDonald het haar elfde benoeming ontvang vir haar rol in Gypsy, wat haar die persoon maak wat die meeste benoemings in die geskiedenis ontvang het. Die produksies Buena Vista Social Club, Death Becomes Her, en Maybe Happy Ending spog elkeen met tien benoemings. Die 78ste Tony-toekenningseremonie word op 8 Junie deur die Wicked-ster, Cynthia Erivo, aangebied.
# En ten slotte: Vandag is Internasionale Harry Potter-dag, ‘n viering van die skrywer JK Rowling se geliefde wêreld van towenaars. Rowling se reeks boeke hou die Guinness-wêreldrekord as die topverkoper van ‘n reeks deur ‘n enkele skrywer. Meer as 500-miljoen eksemplare daarvan is reeds verkoop is. Al sewe van die oorspronklike Harry Potter-boeke is in agt films omskep, en is in die Verenigde Koninkryk en Ierland verfilm. Vandag word boeke weer gelees, temapartytjies gehou en gunstelingspreuke voorgelees terwyl mense ook aangemoedig word om hul innerlike towenaar vry te laat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….