Nuus 07:00
BULLETIN 4 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Studente word aangemoedig om vir NSFAS-befondsing aansoek te doen vóór die matriekuitslae bekend gemaak word
# Novak Djokovic is in ‘n stryd gewikkel om betyds van ‘n gewrigsbesering te herstel vir die Australiese Ope
# En, Suid-Afrika se 2024-kalender spog met twee bykomende vakansiedae
# Die studente-organisasie South African Union of Students moedig studente aan om by die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente aansoek te doen om befondsing sonder om te wag vir hulle matriekuitslae. Die sluitingsdatum vir aansoeke is 31 Januarie, en die stelsel kan oorweldig word as aansoeke op die nippertjie instroom. Die woordvoerder, Aviwe Dlanjwa, verduidelik matrieks kan sonder die uitslae aansoek doen met hulle ID-nommers en hulle ouers se ID-nommers. Hy moedig vroeë aansoeke aan om seker te maak dit word betyds verwerk.
# Die Padvragvereniging se uitvoerende hoof, Gavin Kelly, sê die vereniging is steeds bekommerd oor die globale faktore wat druk plaas op petroleum-gebaseerde brandstof en op die oomblik lyk dit asof dit die prys laat daal. Kelly sê Suid-Afrika se grootste uitdaging is om die rand se waarde teenoor die dollar te verander, want dit is die geldeenheid waarin die land tans petroleum-gebaseerde brandstofprodukte aankoop:
# Die DA in KwaZulu-Natal eis die onmiddellike bedanking van die burgemeester van eThekwini, Mxolisi Kaunda, stadsbestuurder Musa Mbhele, adjunk-stadsbestuurder Sbu Makhanya asook die EFF-raadslid, Themba Mvubu, weens die voortgesette waterkrisis in Phoenix, Verulam en Tongaat. Die party kritiseer Kaunda dat hy uit voeling is met die swaarkry van inwoners terwyl Mvubu, die burgemeesterskomiteelid vir Menslike Nedersettings en Infrastruktuur, glo ondoeltreffend is. ‘n Woordvoerder van die DA, Yogis Govender, vra die raad moet ontbind en voer aan die krisis het vererger omdat die munisipaliteit hulp van Kaapstad geweier het:
# België dring aan op ‘n opsporingstelsel vir Russiese diamante nadat die Europese Unie sanksies ingestel het teen die wêreld se grootste diamantmynmaatskappy, Alrosa, en sy uitvoerende hoof, Pavel Marinychev. Die EU se verbod op Russiese diamant-invoere wat Maandag in werking getree het, teiken weens die voortslepende konflik in Oekraïne, ‘n ekonomiese sektor wat aansienlike inkomste vir die Russiese regering beteken. Alrosa is verantwoordelik vir 90-persent van Rusland se diamantproduksie en kan nou ʼn verbod op visums en bevriesing van bates beleef. Die sanksies is deel van die EU se pogings om maatreëls teen die Kremlin te verskerp.
# Tennis: Die tienmalige Australiese Ope-kampioen, Novak Djokovic, is in ‘n stryd teen tyd gewikkel om betyds fiks te wees om sy titel te begin verdedig. Hy het sy gewrig seergemaak in die United Cup-spankampioenskap in Perth, waar hy gister verslaan is deur die plaaslike speler Alex de Minaur. Dit was die wêreld se nommer een-speler se eerste nederlaag sedert 2018 in Australië, waar hy sy vorige 43 wedstryde gewen het. Vanjaar se eerste Grand Slam-toernooi begin volgende Sondag in Melbourne, en word die eerste keer oor 15 dae gespeel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-71-sent teen die dollar, 20-rand-44-sent teen die euro en 23-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 43-duisend-117-dollar-64-sent. Die prys van goud is twee-duisend-44-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-45-sent per vat.
# En ten slotte, Suid-Afrikaners gaan vanjaar twee bykomende openbare vakansiedae geniet, soos voorgeskryf deur die Wet op Openbare Vakansiedae. Die land verloor egter ook ‘n vakansiedag omdat Vryheidsdag op ‘n Saterdag val. Burgers sal op 17 Junie ‘n bykomende dag af hê om Jeugdag te herdenk, wat op ‘n Sondag val. Die tweede bonusvakansiedag is op die dag van die algemene verkiesing, wat president Cyril Ramaphosa na verwagting tot openbare vakansiedag sal verklaar. Die skrikkeljaar bevoordeel egter ook werkgewers, want dit voeg ‘n ekstra werkdag by die kalender.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….