Nuus 12:00
BULLETIN 2 Mei 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Water en Sanitasie-departement monitor invloei van water in die Vaalrivierstelsel
# Onafhanklike Kragprodusente-vereniging bevraagteken hersiening van tariefkodes vir son-, wind- en batterykrag
# En, skoorsteen op dak van Sistynse kapel opgerig vir verkiesing van nuwe pous
# Die Departement van Water en Sanitasie sê hy hou voortdurend die invloei van water in die Geïntegreerde Vaalrivierstelsel dop. Die departement se woordvoerder, Wisane Mavasa, sê disom te verseker dat die nodige voorsorgmaatreëls getref is ingevolge damveiligheidstandaarde en hidrologiese moniteringstelsels. Sy sê die watervlakke van die Vaaldam is op 113-persent, die Bloemhofdam op 113-persent en die Vanderkloofdam op 108-persent:
# Die Suid-Afrikaanse Onafhanklike Kragprodusentevereniging sê die hersiening van 82 tariefkodes vir son-, wind- en batterykrag het onverwags gebeur, met min duidelikheid oor hoe tariewe direk tot lokalisering sal lei. Die Internasionale Handelsadministrasiekommissie van Suid-Afrika hersien die kodes, wat alles insluit van sonpanele en kragopwekkers vir windturbines tot litium-ioonbatterye en aluminium. Die vereniging sê sonder volgehoue vraag in die Geïntegreerde Hulpbronplan, is dié poging nutteloos.
# Brandbestryders by die Vatikaan het ‘n skoorsteen op die dak van die Sistynse kapel opgerig wat tydens die kardinaalsvergadering gebruik gaan word wat op 7 Mei begin. Kardinale stem in die geheim vir ‘n nuwe pous en maak die uitslag aan die wêreld bekend deur die verbranding van die stembriewe in ‘n spesiale stoof, wat swart rook uitblaas as niemand verkies is nie of wit rook as daar ‘n nuwe pous is. Kardinale van oral in die wêreld is na Rome opgeroep na die dood van Pous Franciskus op 21 April.
# Krieket: Die 14-jarige Vaibhav Suryavanshi sal hulp nodig hê om die oornag-roem te verwerk en sy volle potensiaal te bereik. Sy afrigter by die Rajasthan Royals, Rahul Dravid, sê dit sou onmoontlik wees om Suryavanshi totaal teen die openbare aandag te beskerm, maar hy sal ‘n manier moet vind om die aandag met die hulp van mense na aan hom te verwerk. Suryavanshi het in Maandag se Indiese Premierliga-wedstryd teen die Gujarat Titans 101 lopies van 38 balle geslaan. Dit is die tweede vinnigste honderdtal in die IPL-geskiedenis en hy word reeds as Indiese krieket se nuwe superster beskou.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-47-sent teen die dollar, 20-rand-92-sent teen die euro en 24-rand-54-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-701-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-359-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-92-sent per vat.
# En laastens, Die Tygerberg-hospitaal en die Rooi Kruis Oorlogsgedenkhospitaal vir Kinders in die Wes-Kaap doen ‘n beroep op die publiek om bewus te wees van die verborge gevare van kaliumpermanganaat – ‘n chemikalie wat steeds algemeen in baie huise en tradisionele medisyne gebruik word. Hulle waarsku dat kaliumpermanganaat brandwonde, interne beserings of selfs die dood kan veroorsaak wanneer dit gedrink word. Carine Marks van Tygerberg het ouers en versorgers aangemoedig om dit slegs op die vel te gebruik en dit buite die bereik van kinders te hou:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….