Nuus 07:00
BULLETIN 2 Mei 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# John Steenhuisen sê daar is hoop vir werkskepping in Suid-Afrika
# Donald Trump se nasionale veiligheidsraadgewer, Mike Waltz, tree uit
# En rugby: Die Junior Springbokke troef die Argentyne in die eerste ronde van die Onder 20-Rugbykampioenskap
# Die DA-leier John Steenhuisen sê daar is vandag hoop vir werkskepping en ekonomiese groei in Suid-Afrika omdat die land se rigting en pad in verlede jaar se verkiesing verander het. Werkloosheid onder die land se jeug staan op 44,6-persent teenoor 43,2-persent in die vorige kwartaal. Steenhuisen sê die regering moet die struikelblokke verwyder wat tussen groei, regverdigheid en geleenthede staan omdat baie talentvolle Suid-Afrikaners teruggehou word deur ‘n nalatenskap van uitgediende rasgebaseerde beleid:
# Die UDM doen ‘n beroep op munisipaliteite om op te hou om ‘n bron van frustrasie vir gemeenskappe te wees en eerder sentrums van uitnemendheid en dienslewering te wees. Die UDM-adjunkpresident, Nqabayomzi Kwankwa, sê te veel munisipaliteite word geteister deur finansiële wanbestuur, kaderontplooiing en basiese onbevoegdheid. Hy sê slaggate, onverwyderde vullis, rioolstortings en droë krane het die norm geword vir miljoene werkers, al dra hulle steeds by tot die plaaslike ekonomie:
# Vier-en-veertig buitelandse burgers wat vermoedelik slagoffers van mensehandel is, is Donderdag by ʼn huis in Parkmore, Johannesburg, gered. ʼn Groep privaat sekerheidsbeamptes het die groep gevind toe hulle die gebied gepatrolleer het ná klagtes oor verdagte geluide by die woning. Die polisiewoordvoerder, Mavela Masondo, sê daar is vermoedelik 44 Ethiopiese burgers waarvan 17 minderjarig is:
# Amerika se Nasionale Veiligheidsraadgewer, Mike Waltz, gaan volgens berigte in die komende dae sy pos verlaat. Hy het in Maart per abuis die Atlantic se hoofredakteur, Jeffrey Goldberg, by die Signal-groepsgesprek ingesluit. Die groep bestaan uit hooggeplaaste amptenare wat beplande militêre aanvalle bespreek, insluitend dié in Jemen. Waltz se adjunk, Alex Wong, gaan na verwagting ook uittree. Waltz het aanvanklik gesê hy weet nie hoe Goldberg op die groep beland het nie, maar neem volle verantwoordelikheid. Spesiale gesant Steve Witkoff word volgens berigte as Waltz se plaasvervanger oorweeg.
# Rugby: Haashim Pead het twee drieë gedruk en die Junior Springbokke het die Argentyne met 36-25 verslaan in die eerste ronde van die Onder 20-Rugbykampioenskap by die Nelson Mandelabaai-stadion in Gqeberha. Suid-Afrika was teen rustyd agter met 20-15, maar het teruggeveg en die sege behaal. Intussen het Sid Harvey in die doodsnikke ʼn drie verdoel en Australië en die verdedigende kampioene van Nieu-Seeland se aanvangswedstryd het met 29-elk gelykop geëindig. Die Junior Springbokke se afrigter, Kevin Foote, het sy span se veerkragtigheid en leierskap geloof:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-52-sent teen die dollar, 20-rand-91-sent teen die euro en 24-rand-61-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-842-dollar-30-sent. Die prys van goud is drie-duisend-234-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-46-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Chinese student wat per helikopter van die berg Fuji in Japan gered is, moes slegs vier dae later weer gehelp word. Die 27-jarige klimmer het sy eerste noodoproep gemaak nadat hy hoogtesiekte ongeveer drieduisend-meter bo seespieël op die berg opgedoen het. Die polisie het vier dae later egter weer ‘n oproep van hom ontvang nadat hy terug is om sy foon te soek. ‘n Ander klimmer het op hom afgekom, skynbaar weer met hoogtesiekte. Die saak het gelei tot oproepe dat hy vir die koste van ten minste sy tweede redding moet opdok.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….