Nuus 13:00
BULLETIN 1 Mei 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA in Noordwes sê die Marikana-werkers mag nie vergeet word nie
# Die Konstitusionele Hof beslis dat gevangenes persoonlike rekenaars in selle mag gebruik om te studeer
# En, Israel verklaar ‘n nasionale noodtoestand en vra buitelandse hulp oor wegholbrande
# Die DA in Noordwes sê met die herdenking van Werkersdag vandag, word hy herinner aan die tragedie op 16 Augustus 2012 by Marikana. Freddy Sonakile van die DA sê die party eis dat ‘n deeglik berekende voorstel vir die Marikana-monument onmiddellik ter tafel gelê word. Dit volg nadat die departemente van Kuns en Kultuur en van Ekonomiese Ontwikkeling, Omgewing, Bewaring en Toerisme nié die nodige befondsing van die Tesourie kon bekom nie:
# Inutssen sê die metaalwerkersvakbond, NUMSA, sê die Regering van Nasionale Eenheid is vasberade om werkers se regte uit te wis sodat sakeondernemings ‘n meer buigsame arbeidstelsel kan hê. NUMSA se woordvoerder, Phakamile Hlubi-Majola, sê dit beteken eintlik dat arbeiders meer uitgebuit gaan word. Sy sê NUMSA ondersteun daarom veldtogte waarin werkers oor dié kwessies opgevoed en gemobiliseer word:
# Die Konstitusionele Hof het die Departement van Korrektiewe Dienste se beleid wat gevangenes verbied om persoonlike rekenaars in hul selle te gebruik om te studeer, as ongrondwetlik en ongeldig verklaar. Die hof het gesê dat die uitspraak gevangenes se reg op verdere onderrig handhaaf, en verklaar dat die beperking ongeregverdig en teenproduktief is. Die hof het beklemtoon dat toegang tot onderwys, selfs vir persone in aanhouding, ’n fundamentele reg is.
# Kultuurgroepe en -organisasies AfriForum en die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge het kommer uitgespreek oor die afname in Afrikaanse programme. Dit volg terwyl die SABC finansiële probleme in die gesig staar. Die gewilde program Voetspore kan moontlik geskrap word, en Afrikaanse nuusbulletins is onlangs ontwrig. AfriForum en die FAK waarsku dit bedreig die toekoms van die taal en dring aan op gemeenskapsoptrede. Die uitsaaier, wat byna die helfte van sy 2023/24-teikens gemis het, hou vol daar is geen agenda nie, net ernstige finansiële druk.
# Die Israelse eerste minister, Benjamin Netanyahu, het ‘n nasionale noodtoestand afgekondig en buitelandse hulp gevra weens wegholbrande wat steeds by Jerusalem woed. Beeldmateriaal op sosiale media toon die brande langs die snelweg tussen Jerusalem en Tel Aviv, met digte rook oor die omliggende heuwels. Talle mense het hul motors verlaat en te voet van die vlamme weggevlug. Minstens tien mense is in hospitale opgeneem. Oekraïne het in reaksie op Israel se versoek onderneem om ‘n vliegtuig te stuur vir brandbestryding. Spanje, Frankryk, Roemenië, Kroasië en Italië gaan ook lugsteun verskaf.
# En ten slotte sokker: Die wedloop op die titel in die Premierliga het nou nog verder in die guns van die kampioene, Mamelodi Sundowns, geswaai ná drie inhaalwedstryde Woensdagaand. Sundowns het hul voorsprong oor Orlando Pirates, wat tweede lê, tot 12 punte vergroot nadat hulle Richardsbaai 3-0 geklop en Pirates 1-0 teen Sekhukhune United verloor het. Sekhukhune se oorwinning het ook hul kanse verbeter om derde op die punteleer te eindig. Die Betway Premierliga gaan dié naweek voort met ‘n volledige ronde wedstryde, insluitend die Soweto-derby tussen Kaizer Chiefs en Orlando Pirates.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….