Nuus 18:00
BULLETIN 30 April 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa wil waarheid ontbloot agter vertragings met die vervolging van WVK-sake
# ANC verwelkom onttrekking van BTW-verhoging, loof veelparty-konsensus
# En, SAFTU versoek werkers moet betoog om hul regte te beskerm
# President Cyril Ramaphosa sê ‘n geregtelike kommissie van ondersoek gaan ingestel word om te kyk na vertragings met die vervolging van misdade uit die apartheid-era, wat deur die Waarheids- en Versoeningskommissie oorhandig is. Die stap volg na ‘n regsgeding deur families van slagoffers, wat beweer pogings is aangewend om geregtigheid te verhoed. Die woordvoerder in die Presidensie, Vincent Magwenya, sê die regering wil ook ander onopgeloste sake deur die kommissie laat ondersoek, soos moontlike skending van menseregte en vergoeding:
# Die ANC het die onttrekking van die voorgestelde BTW-verhoging en die hersiening van die 2025 fiskale raamwerk verwelkom, en dit ‘n politieke oorwinning, gebaseer op demokratiese konsultasie, genoem. Die party sê die besluit het gevolg op gesprekke met tien ander partye in die Parlement, insluitend die IVP, ActionSA, Rise Mzansi en Build One South Africa. Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, het aan die media gesê die uitkoms bewys dat politieke samewerking moontlik en noodsaaklik is vir doeltreffende regering:
# Saftu doen ’n beroep op alle werkers, gemeenskappe en progressiewe groepe om aan te sluit by die landwye Werkersdag-byeenkomste en optogte regoor die land. Woordvoerder van die vakverbondfederasie, Newton Masuku, sê die optog vind plaas onder die tema: “Vier Meidag: Verenig teen die BTW-verhoging en wysigings aan arbeidswette wat teen werkers is.” Hy sê wanneer werkers en gemeenskappe verenig, is oorwinnings moontlik:
# Die Afrika-Unie het sanksies teen Gaboen opgehef, nadat die Sentraal-Afrika land in Augustus 2023 weens ’n staatsgreep uit die organisasie geskors is. ’n Vergadering van die Vrede- en Veiligheidsraad oor Gaboen se politieke oorgang het “die prosesse hersien en dit oor die algemeen suksesvol bevind”. Die verklaring sê Gaboen sal “welkom wees om onmiddellik sy deelname aan die aktiwiteite” van die AU voort te sit. Gaboen is geskors toe Generaal Brice Oligui Nguema die mag oorgeneem het na die omverwerping van President Ali Bongo, wie se familie 55-jaar aan bewind was.
# Tennis: Wêreld nommer een, Jannik Sinner, dring daarop aan dat hy geen voorkeurbehandeling van die owerhede teen verbode middels ontvang het nie. Hy berei voor om volgende week sy terugkeer by die Italiaanse Ope in Rome te maak. Dit volg op ’n drie-maande skorsing wat woede ontlok het onder lede van die mans-tennistoer. Beide die Internasionale Tennis-integriteitsagentskap en die Wêreldagentskap teen die gebruik van verbode middels het aanvaar dat hy geen voordeel uit die middel verkry het nie, en dat hy geen blaam vir die toevallige besmetting dra nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-62-sent teen die dollar, 21-rand-16-sent teen die euro en 24-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-8-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-306-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-36-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….