Nuus 17:00
BULLETIN 30 April 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa wil waarheid ontbloot agter vertragings met die vervolging van WVK-sake
# AfriForum dring aan op ‘n staking van NGV-regulasies te midde van regs- en tegniese bekommernisse
# En, Staatsdiensvakbond maak alarm oor wydverspreide gebrek aan slaap onder Suid-Afrikaanse werkers
# President Cyril Ramaphosa sê ‘n geregtelike kommissie van ondersoek gaan ingestel word om te kyk na vertragings met die vervolging van misdade uit die apartheid-era, wat deur die Waarheids- en Versoeningskommissie oorhandig is. Die stap volg na ‘n regsgeding deur families van slagoffers, wat beweer pogings is aangewend om geregtigheid te verhoed. Die woordvoerder in die Presidensie, Vincent Magwenya, sê die regering wil ook ander onopgeloste sake deur die kommissie laat ondersoek, soos moontlike skending van menseregte en vergoeding:
# AfriForum het ’n beroep gedoen dat die voorgestelde regulasies vir die Nasionale Gesondheidsversekeringsfonds opgeskort word totdat die hofsaak teen die NGV afgehandel is. Die organisasie het kommentaar ingedien wat verskeie gebreke uitwys, insluitend die afwesigheid van ’n tussentydse raad, ’n gebrek aan ’n duidelike begroting, en verwarrende bewoording. Louis Boshoff van AfriForum sê die implementering van die NGV is finansieel onprakties. Hy dring aan dat regulasies eerder privaatgesondheidsorg moet ondersteun om sodoende meer Suid-Afrikaners te bevoordeel:
# Die Vereniging van Staatsamptenare sê chroniese slaapontneming onder byna die helfte van Suid-Afrika se werksmag is nou ‘n ernstige beroepsgevaar. Volgens ‘n onlangse studie word moegheid verbind met verlaagde produktiwiteit, duur foute en langtermyn-gesondheidsrisiko’s. Die vakbond blameer oormatige werksladings en personeeltekorte en dring daarop aan dat werkgewers voorkeur gee aan personeelwelstand. Reuben Maleka van die vakbond vra nasionale optrede om slaapgesondheid in te sluit by veiligheidsregulasies in die werksplek en die balans tussen werk en leefstyl in alle sektore te herstel.
# Die Verenigde Arabiese Emirate sê hulle het ’n besending wapens wat bestem was vir die Soedanese weermag, geblok. Die verklaring het nie die name van die gearresteerde verdagtes bekend gemaak nie, maar het aangedui dat lede van die sel onder andere die voormalige Soedanese intelligensiehoof, Salah Gosh, asook verskeie Soedanese sakelui insluit. Die Soedanese weermag het die Golfstaat daarvan beskuldig dat hy paramilitêre magte in die land se tweejaar-lange oorlog ondersteun. Volgens die verklaring is die arrestasies gemaak “tydens ’n inspeksie van ammunisie in ’n privaat vliegtuig” wat sowat vyf miljoen masjiengeweer-koeëls aan boord gehad het.
# Rugby: Die kaptein van die Junior Springbokke, Riley Norton, sê sy span sien uit na die fisieke uitdaging wanneer hulle môre teen Argentinië in die eerste ronde van die onder-20 Rugbykampioenskap in die Nelson Mandelabaai-stadion te staan kom. Die 2025 toernooi is die tweede weergawe nadat dit vir die eerste keer verlede jaar in Australië gespeel is. Nieu-Seeland en Australië speel moremiddag 2-uur in die eerste wedstryd op dieselfde veld.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-61-sent teen die dollar, 21-rand-15-sent teen die euro en 24-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-449-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-305-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-59-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….