Goeie nuus
BULLETIN 29 April 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Boulders-strand naby Kaapstad het van die 40ste plek in 2023 tot die 12de plek geklim op die 2025-lys van die wêreld se 50 beste strande. Die strand word erken vir sy warm water, goue sand en Afrika-pikkewyne wat aan besoekers ‘n magiese ondervinding bied. Dis is ook bekend vir sy beskutte inhamme en besondere natuurlewe-ervarings vir toeriste en plaaslike besoekers. Cala Goloritzé in Italië is boaan die lys, gevolg deur Entalula-strand in die Filippyne en Thailand se Bang Bao-strand.
# Shrek the Musical word tot Sondag by die nuwe Milkwood-teater in Durban-Noord in KwaZulu-Natal opgevoer. Die prettige vertoning wat deur die Young Performers Project aangebied word, bevat al die lag, liedjies en gewilde karakters, en is net betyds om mense te laat uitsien na die Shrek 5-fliek wat volgende jaar in fliekteaters sal wees. Lyle Buxton vertolk die rol van Shrek en word deur ʼn rolverdeling van 35 jong akteurs ondersteun. Die sprokie verskaf pret aan gehore van alle ouderdomme met alles van Donkie se manewales tot Lord Farquaad met sy dramatiese houding.
# Limpopo-premier Phophi Ramathuba het Murena Emmanuel Ṋetshiṱangani gelukgewens met sy geskiedkundige prestasie by die 78ste jaarlikse Cannes-filmfees in Frankryk. Hy het die toekenning vir beste Afrika-film ontvang vir sy grensverskuiwende Venda-film, LUBUNYU. Die fliek handel oor die fees se 2025-tema, naamlik die stryd teen geslagsgeweld en vrouemoord. Die premier se woordvoerder, Thilivhali Muavha, sê Ṋetshiṱangani het Limpopo en Suid-Afrika se filmvervaardiging op die wêreldverhoog geplaas:
# Die wêreld se nommer-een-manstennisspeler, Jannik Sinner, het sy nuwe stigting, die Jannik Sinner-stigting, bekendgestel, wat toegewy is aan die bemagtiging van kinders deur middel van onderwys en sport. Die stigting se direksie sluit in die Formule Een-president en uitvoerende hoof, Stefano Domenicali en ‘n voormalige finansiële hoof van Apple, Luca Maestri. Sinner sê hy is dankbaar vir die ondersteuning wat hy ontvang het en hy is gretig om die volgende generasie te verryk deur middel van onderwys en sport:
# En ten slotte: Ryan Coogler se riller, Sinners, met Michael B. Jordan in die hoofrol, doen in sy tweede week na vrystelling steeds die beste by kaartjiekantore. Die fliek het reeds meer geld by Amerikaanse kaartjiekantore gemaak as Disney se Snow White. Star Wars: Episode III – Revenge of the Sith is tweede, gevolg deur Ben Affleck se The Accountant 2. Warner Bros. se film gebaseer op die videospeletjie, A Minecraft Movie, met Jack Black en Jason Momoa, is nou vierde en Sony se riller, Until Dawn, is vyfde.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….