Eko-minuut 13:30
BULLETIN 29 April 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Dion George, is van vandag af op die 2025 Fishing for Freedom-toer, ‘n weeklange besoek aan kusgemeenskappe en belanghebbendes om volhoubare groei in hawe-ekonomieë te bevorder. Die minister sal belangrike hawens regoor die Wes-Kaap besoek, om dialoog met die publiek, kleinsake-eienaars en belanghebbendes in die bedryf te bevorder. Die departement se woordvoerder, Thobile Zulu-Molobi, sê Suid-Afrika se verklaarde visserhawens is kritieke ekonomiese sones, wat werkskepping dryf en florerende plaaslike ekonomieë bevorder deur volhoubare visvang en verwante aktiwiteite.
# Die Internasionale Koraalrifvereniging sê die beste manier om koraalriwwe te beskerm, is om die oorsaak van klimaatsverandering aan te spreek. Volgens die Internasionale Koraalrif-inisiatief het skadelike verbleiking van die wêreld se koraal toegeneem tot 84-persent van die oseaan se riwwe. Ongeveer 25-persent van alle mariene spesies kan in, op en om koraalriwwe gevind word. Mark Eakin van die vereniging sê dit is noodsaaklik om kweekhuisgasvrystellings wat die planeet verwarm, soos koolstofdioksied en metaan, te verminder om koraalriwwe te beskerm.
# En laastens: die Amerikaanse Longvereniging se 2025-verslag oor die toestand van lug toon dat ongeveer 156-miljoen Amerikaners, wat byna die helfte van die bevolking is, in gebiede met ongesonde vlakke van lugbesoedeling woon. Dit is ‘n toename van 25-miljoen mense vanaf die vorige jaar, die hoogste in ‘n dekade. Die verslag skryf die styging toe aan faktore soos uiterste hitte, veldbrande en droogte, wat alles gekoppel is aan klimaatsverandering. Gemeenskappe van kleur word buite verhouding die meeste geraak, met Latyns-Amerikaners wat byna drie keer meer geneig is om beide osoon- en deeltjiebesoedelingstowwe in te asem.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….